Die jongste skatting van die plaaslike katoenoesvir 2011/’12 is 13% hoër as verlede maand s’n weens beter Noord-Kaapse opbrengste.
Volgens die vooruitskouing word daar nou ’n totale oes van 68 585 bale vesel verwag. Dit is 24% minder as die vorige seisoen. Die daling word veral toegeskryf aan die laer katoenprys en die gunstiger pryse van mededingende gewasse, soos mielies.
Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, het vroeër gesê hy meen die uiteindelike opbrengste in veral die Noord-Kaap sal hoër wees as wat ’n maand gelede geraam is. Sy voorspelling is nou bewaarheid.
Hy meen ook dat veral die hoë mielieprys beoogde aanplantings vir die volgende seisoen kan beïnvloed omdat dit aansienlik makliker is om mielies te verbou. “Verder word groei in die katoenbedryf belemmer deur die koste van meganisering. Daar sal gekyk moet word na maniere om koste te verpoel.”
Wêreldproduksie daal
Volgens die jongste internasionale markverslag is katoenaanplantings in die Noordelike Halfrond vir die 2012/’13-seisoen nou in volle gang. Daar word verwag dat wêreldproduksie met 7% tot 25,2 miljoen ton kan daal. Die grootste afname van 13% is in China.
Die Internasionale Katoenadvieskomitee (ICAC) verwag dat die wêreldverbruik, wat die afgelope twee jaar nie gegroei het nie, nou met sowat 4% tot 24,1 miljoen ton sal styg.
Handel sal ook in 2011/‘12 met 13% styg, hoofsaaklik aangevuur deur China wat dié seisoen vir 52% van internasionale katoeninvoer verantwoordelik sal wees.
Die toename in die Chinese invoer het nie net die hoeveelheid katoen verminder wat vir die res van die wêreld hierdie seisoen beskikbaar is nie, maar ook daartoe gelei dat die Chinese voorraad tot ongeveer 5 miljoen ton verdubbel het.
Begin Mei was die gemiddelde Cotlook A-indeks (’n aanwysing van wêreldpryse) VSA98c/lb. Dit is aansienlik minder as die $1,72/ lb wat ’n jaar gelede gegeld het, maar steeds heelwat meer as die gemiddelde internasionale prys van 71c/lb die afgelope 20 jaar.
11 Mei 2012