Gepasteuriseerde melkprodukte van Suid-Afrika word wel deur Botswana en Namibië toegelaat nadat dié lande hul grense vir plaaslike uitvoer gesluit het weens die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal. Albei lande het verlede week in verklarings bekend gemaak dat hulle ’n verbod op die invoer van verskeie Suid-Afrikaanse dierprodukte geplaas het.
Mnr. De Wet Jonker, lid van die taakspan wat deur Melk Suid-Afrika afgevaardig is om na die situasie te kyk, sê op ’n vroeëre vergadering het nasionale veeartsenydiens bevestig dat hy met sy eweknieë en die nodige owerhede in dié buurlande oor die kwessie gepraat het.
“Gepasteuriseerde produkte mag wel uitgevoer word, maar daar is steeds ’n verbod op die uitvoer van roumelk na dié lande”.
Kry nodige permitte
Jonker raai die belanghebbendes aan om seker te maak dat hulle die nodige permitte van die invoerlande af kry. Dié permitte moet die gespesifiseerde inligting van die land bevat.
“Die persone moet wel seker maak dat dié permitte ná die aankondiging van die verbod op die uitvoer van diere met gesplete hoewe deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (25 Februarie) gedateer is – sodat dit die juiste inligting verstrek”, merk Jonker op.
Die betrokkenes moet ook met hul plaaslike veeartse in verbinding tree.
Invloed op bedryf
Jonker het vroeër gesê dat as buurlande nie meer Suid-Afrika se melkprodukte wil invoer nie, dit ’n reuse-invloed op die bedryf en die land se ekonomie kan hê.
“Indien uitvoer teen dieselfde tempo as 2010 gehandhaaf word, word die verlies aan buitelandse valuta op ongeveer R40 miljoen per maand beraam”.
11 Maart 2011