Regulasies rondom die klassifisering, verpakking en bemarking van verwerkte vleisprodukte is op 4 Oktober 2019 bekend gemaak. Ingevolge dié regulasies verwys “verwerkte vleis” na enige vleis wat enige aksie ondergaan het wat sy oorspronklike toestand aansienlik te verander, onder meer verhitting, droging, fermentering of marinering. Rou verwerkte vleis word nie hierby ingesluit nie.
Mnr. Peter Gordon, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse vleisverwerkersvereniging (Sampa), sê die vleisbedryf is gefrustreerd oor alternatiewe vleisprodukte wat verkeerdelik geëtiketteer is met beskrywing wat “visstyl” of “hoenderstyl” insluit.
“Daar is geen rede hoekom vegan of vegetariese produkte enigsins na vleis moet verwys nie. Tog doen hulle dit om op die skouers te ry van ’n produkkategorie wat die vleisbedryf geskep het. Daar is byvoorbeeld ook wetsvereistes van wat ’n wors moet bevat as dit boerewors genoem word. Dit is alles wetgewing wat die vleisalternatiewe bedryf oortree het.