Suid-Afrika se misdaadsyfers is onder verdenking en dit moet deur ’n onafhanklike firma ondersoek word, sê die Vryheidsfront Plus.
Luidens ’n verklaring sê mnr. Pieter Groenewald, woordvoerder oor veiligheidskwessies, die statistiek is verdag omdat provinsiale kommissarisse se syfers van die statistiek in die Polisie se jaarverslag verskil.
“Dit is geen wonder dat die publiek nie vertroue het in die jaarlikse misdaadstatistiek nie en glo dit word gekook,” sê Groenewald.
Verskille
Die verskille het aan die lig gekom toe die provinsiale kommissarisse aan die portefeulje-komitee vir die polisie verslag moes doen oor die werksaamhede van die SA Polisiediens in elke provinsie.
Groenewald sê volgens Noordwes se kommissaris was die provinsie se moordsyfer vir die 2010/2011- en 2009/2010-boekjaar dieselfde. Daarteenoor het die nasionale jaarverslag ’n toename van 7,9% in die moordsyfer aangeteken.
“In die geval van aanranding met die opset om ernstig te beseer sê die kommissaris dit het met 3% afgeneem, maar volgens die jaarverslag het dit met 4,3% toegeneem,” aldus Groenewald. Hy sê soortgelyke verskille bestaan in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en ander provinsies.
“Ek gaan nie die saak hier los nie,” het Groenewald aan Landbou.com gesê. Hy sê die verskille moet onmiddellik verklaar word en die skuldiges moet aan die pen ry. “Of die kommissarisse verbloem misdaadstatistiek om goed te lyk, of die Minister van Polisie en die nasionale kommissaris mislei die publiek.”
Plaasmoorde
Groenewald sê hy gaan ook die kwessie van statistiek oor plaasaanvalle en -moorde met mnr. Nathi Mthethwa, die Minister van Polisie bespreek. Plaasmoordsyfers word sedert 2007 nie meer afsonderlik in die jaarverslag weergegee nie, maar as deel van die land se moordsyfer gereken.
“Elke keer as ons daarna vra, dan sê die nasionale kommissaris dit kan weens operasionele redes nie apart weergegee word nie. Watter operasionele redes bepaal dit?”
Groenewald sê hy meen dit is moontlik vir die Polisie om dié syfers bekend te maak, want Mthethwa het al aan hok aangedui dat dié syfers steeds apart aangeteken word.
9 Februarie 2012