Die bevinding dat die lied “Skiet die boer” haatspraak is, strook met vorige hofbevindings oor dieselfde kwessies, sê dr. Pieter Mulder, Adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye en leier van die Vryheidsfront Plus.
Mulder sê sy party verwelkom regter Colin Lamont se uitspraak dat die sing van dié lied deur Julius Malema en ander lede van die ANC-jeugliga nou verbied word.
Volgens Mulder is dit wel betreurenswaardig dat dit nodig was vir organisasies om hulle tot ’n hof te wend om die gebruik van so ’n lied stop te sit.
“In hierdie opsig is die regter se uitspraak ’n ernstige aanklag teen die ANC wat toegelaat het dat hierdie saak hand uitruk en so ver gevorder het, dat daar ’n regstelling van buite die ANC moes kom.”
Herstel van balans
Mulder meen dat dié bevinding ’n tree in die regte rigting is om Suid-Afrika “uit die moeras van haatspraak en rassisme” te neem. “Hopelik is hierdie uitspraak ’n eerste tree van baie wat nog gegee moet word na die herstel van balans en die bevordering van goeie verhoudinge tussen alle groepe in Suid-Afrika.”
Die party het in 2003 daarin geslaag om die Peter Mokaba-uitspraak van “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak verklaar te kry.
Volgens Mulder verwag sy party nou van die polisie om die strafregtelike klag wat hy in Maart verlede jaar teen Malema gelê het vir die gebruik van die lied, verder te voer. Mulder het die klag in Pretoria aanhangig gemaak nadat Malema die lied tydens ’n saamtrek by die Universiteit van Johannesburg gesing het.
12 September 2011