
Vier mans wat Sondag (24 Junie 2012) geprobeer het om ’n gesteelde bakkie in Vryburg te verkoop, is aangekeer in verband met die erge aanranding van ’n boer van Kuruman.
Kapt. Cherelle Ehlers, polisie-woordvoerder, sê mnr. Joseph van Heerden is Saterdagaand (23 Junie 2012) so erg aangerand dat hy nog nie in staat was om meer inligting oor die voorval te verskaf nie.
“Ons weet nie hoe die verdagtes toegang tot die huis gekry het of wat moontlik gesteel is nie. Al wat ons weet, is dat die boer aangeval is, en dat sy bakkie gesteel is,” vertel Ehlers. Sy sê hulle kon nog nie Van Heerden se ouderdom vasstel nie, hulle weet dat hy bejaard is en alleen op die plaas woon.
Van Heerden is tans in ’n stabiele, maar kritieke toestand in ’n plaaslike hospitaal. Ehlers sê die ondersoekbeamptes sal hom ’n paar dae tyd gun om aan te sterk voor hulle sy verklaring oor die gebeure afneem.
Lamola
Intussen gaan AfriForum Jeug voort met ’n saak van haatspraak in die Gelykheidshof teen mnr. Ronald Lamola, die ondervoorsitter van die ANC-jeugliga. Dít volg na Lamola geweier het om om verskoning te vra vir uitsprake wat hy oor boere se veiligheid gemaak het én sy voorneme om nie dié uitsprake te staak nie.
’n Kriminele klag van intimidasie en aanhitsing tot geweld is reeds teen Lamola ingedien. Mnr. Charl Oberholzer, voorsitter van AfriForum Jeug, sê hulle het met Lamola in die ANC se hoofkantoor vergader om sy uitsprake te bespreek.
“In hierdie geval is dit egter duidelik dat die jeugliga nie bereid is om sy siening te verander nie, nie eers toe ons versoek het dat eerlikheid vooropgestel word nie. Die jeugliga het dit duidelik gestel dat hy nie bereid is om verskoning te vra of om die onderneming te gee dat hy nie sal voortgaan om uitsprake wat rassehaat aanmoedig, te maak nie,” aldus Oberholzer.