
Lt.genl. Thebisile Patekile, Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die ondersoek- en vervolgingspan geloof wat verseker het dat Sakhumzi Benya (32), Nomwabisi Maki (26), Nkosithethu Nocuza (28) en Msomi Nikani (28) op Vrydag 22 April in die rondgaande hooggeregshof in George gevonnis is.
Elkeen is ook gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en 6 jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.
Volgens Netwerk24 is die vyfde verdagte onskuldig bevind.
Volgens sers. Christopher Spies het vyf verdagtes in oranje oorpakke met balaklavas oor hul gesigte Kilian, haar suster, me. Brenda Thomas, haar man, David, en ’n vriend op 16 April 2018 aangeval terwyl hulle besig was om op die plaas Gazania te braai. Een van die verdagtes het lukraak skote begin afvuur en Kilian doodgeskiet.
Die verdagtes het die twee mans oorweldig en hul hande geboei. Die huis is geplunder en die kluis oopgedwing. ’n Onbekende bedrag kontant, verskeie vuurwapens (onder meer ’n haelgeweer) en verskeie jagmesse is gesteel waarna die verdagtes in ’n wit Toyota Hilux-bakkie van die toneel gevlug het. Volgens Spies het Brenda daarin geslaag om te ontsnap en die polisie te ontbied.
Die voertuig waarin die verdagtes ontsnap het, is later daardie jaar in die Kaapse metropool gevind, wat tot die inhegtenisneming van een van die verdagtes gelei het. Nog vier verdagtes is in Februarie 2019 deur die Wes-Kaapse anti-bende-eenheid in hegtenis geneem.