
Hedendaagse kosneigings, soos kosprogramme op televisie, voedselsoewereiniteit en deftige kombuistoerusting, is deel van boere se besigheid wat die toekoms van die landbou kan bepaal, het prof. Nick Vink, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, onlangs op Caledon gesê.
Vink, wat die genooide spreker by die jaarvergadering van die landbouvereniging Caledon-Jongensklip was, meen die beste manier om die toekoms van die landbou te bepaal, is om na die grootte en ouderdom van bevolkings te kyk, wat besig is om in die res van Afrika te gebeur, verstedeliking, die aard van die vraag na voedsel, klimaatverandering en die faktore wat landbouproduksie beïnvloed.
Tussen 2005 en 2008 het bevolkingsprojeksies daarop gedui dat daar teen 2030 meer as 12 miljard mense in die wêreld gaan wees. Dit het redelike kommer oor voedselproduksie veroorsaak. Vink sê die projeksies is sedertdien verlaag tot 9,2 miljard mense teen 2030.
Eweneens was daar paniek dat die groei in voedselproduksie nie met bevolkingsgroei sou tred hou nie. Dit is volgens Vink ongegrond. "Die landbou het die hulpbronne, kundigheid en kapitaal om voedselproduksie binne tien jaar te verdubbel, maar die groot probleem is wat die uitwerking dáárvan op markte gaan wees. As produksie so vinnig verdubbel, gaan die pryse halveer."
Verstedeliking
Hy sê die landbou moet ook op hoogte bly met kwessies rondom verstedeliking. "Ons weet mense trek stede toe en moet dit tot ons voordeel gebruik. Die ou wat in die stad woon, moet sy kos koop. Hy kan kies of hy kos koop wat hier geproduseer is of dit van 'n ander land af invoer.
"Dis ons werk om te sorg dat hy by plaaslike produsente koop. Dit is 'n baie belangrike beleidskwessie waaraan ons nie genoeg aandag gee nie. Ons moet die staat oortuig dat voedselsekerheid nie oor die vermoë om voedsel in te voer gaan nie. Dit gaan oor die vermoë om ons eie produksiebasis te beskerm en uit te bou."
Vink het verder gesê die koppeling tussen die pryse van landbouprodukte en dié van ru-olie is besig om te verander en gaan aanhou verander. "Landbouproduksie word meer energie-intensief en die hele proses om landbouprodukte van die plaas na verbruikers te neem, is selfs meer energie-intensief."
Hy sê die koppeling is versterk vandat daar begin is om brandstof uit graan en suikerriet te vervaardig. "Amerika gebruik reeds 40% van hul mielie-oes vir biobrandstof, Brasilië gebruik 50% van hul suikerrietoes daarvoor en 80% van die suikerbeet wat in Europa geoes word, word vir biobrandstof gebruik. As die prys van olie opgaan, is dit lonender om biobrandstof te produseer, maar dan is daar minder mielies en suiker op mark."
Die gevolglike hoër produkpryse is goeie nuus vir produsente, maar Vink waarsku dat dit dikwels veroorsaak dat insetpryse ook styg.