
’n Strategiese raamwerk met haalbare doelwitte is nodig om ’n Suid-Afrikaanse wynbedryf te verseker wat robuust, globaal mededingend en winsgewend is.
Die plan, genaamd Wise (wine industry strategic exercise), het ten doel om sekere doelwitte teen 2025 te bereik, het mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, op die inligtingsdag in Kaapstad gesê.
Tans is sowat 100 000 ha in die land onder wyndruiwe van 3 300 produsente wat werk gee aan 30 000 plaaswerkers. Altesame 52 SEB-projekte is in die bedryf aan die gang.
Van die doelwitte vir 2025 is:
* Dat produsente se winsgrens van 2% tans sal opskuif tot inflasie plus 5%.
* Dat die huidige 80 000 ton surpluswyn deur die markgedrewe waardeketting opgeneem word.
* Dat wynproduksiegrond en -water van die huidige 1,5% sal opskuif tot 20%.
* Die huidige wynverbruik sal styg van die huidige 6 liter per kop tot 9 liter per kop.
* Dat die grootmaat verpakte wyn vir uitvoer van die huidige 60:40 verhouding sal verander tot 40:60.
* Om die huidige 25% volume wyn wat via handelaars uitgevoer word, verminder tot onder 10%.
* Dat werksgeleenthede in die bedryf van die huidige 275 000 sal klim tot 375 000.
Voorts sal die Chinese-, Amerikaanse- en Afrika-markte ontwikkel word, en die huidige R6 miljard wat die land uit wyntoerisme verdien, moet styg tot R15 miljard in 2025.
Basson het gesê markontwikkeling en promosie is belangrik. Die skepping van ’n gehaltemerk vir Suid-Afrikaanse wyne geniet voorkeur.
’n Omvattende transformasieplan met doelwitte is op die tafel waarin onder andere voorsiening gemaak word vir ’n komitee en -riglyne en die daarstelling van distrikskomitees wat in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsprogram funksioneer. “Daarvoor het Vinpro reeds R50 miljoen gegee,” het Basson gesê.
“Kritieke onderbou vir die suksesse van die toekoms is ope en deursigtige prosesse en kommunikasie, gesprekvoering met sleutel-belangegroepe, deelneming, konsensus en die implementering van planne en besluite,” het hy gesê.