
“Dit gee aan ons die versekering waarna ons gesoek het dat ons verder in hierdie land kan belê en ons bedrywighede kan uitbrei,” het mnr. Richard Rivett-Carnac, uitvoerende hoof van SA Brouerye, in reaksie op mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, se begrotingsrede gesê. Gondwana het ‘n verhoging van 4,9% in aksynsbelasting op alkoholprodukte aangekondig.
Rivett-Carnac het dit bestempel as ‘n mylpaal vir produkte en bedrywe waarop aksynsbelasting gehef word.
Ook mnr. Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro, het dit verwelkom dat die tesourie ‘n slag gehoor gegee het aan hul pleidooie oor aksynsbelasting. Volgens hom is die aankondiging ‘n bewys daarvan dat die regering begrip het vir die finansiële werklikhede wat wynbesighede in die gesig staar.
Beide die wyn- en bierbedryf het laat blyk dat inflasieverwante aksynsbelasting positief sal wees vir werkskepping, kapitale beleggings asook om onwettige handel hok te slaan.
Die verhoging in sondebelasting op ‘n bottel ongefortifiseerde wyn (750 ml) is 18 sent. Vir gefortifiseerde wyn is die verhoging 31 sent per bottel en 9 sent vir vonkelwyn. Appelbier en alkoholiese vrugtedranksies sal met 10 sent meer per blikkie (340 ml) gehef word. ‘n Blikkie moutbier sal met 10 sent meer belas word.
Basson sê Vinpro het saam met ander bedryfsorganisasies die afgelope paar maande die wynbedryf se benarde posisie aan die tesourie verduidelik.
“Ons het versoek dat inflasiegedrewe aksynsbelasting ingestel word, want dít, tesame met ander ingrypings soos ooreengekom in die landboumeesterplan, sal die wynbedryf in staat stel om die belangrike rol wat dit in die ekonomie van ons land én ons samelewing speel, te vervul.”
Ekonomiese herstel
Me. Pamela Nkuna, voorsitter van die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkeienaarsvereniging (Salba), sê die drankbedryf is vasbeslote om ‘n rol in ekonomiese herstel in Suid-Afrika te speel.
“Ons glo private besighede kan help om armoede op te los deur werkskepping en sake-uitbreiding. Ons is daarom bly dat die aankondiging oor aksynsbelasting in lyn is met inflasie, want dit sal ondernemings toelaat om om hul volle potensiaal te bereik, werk te skep, buitelandse beleggings te lok en by te dra tot die fiskus.”
Rivett-Carnac sê die aksynsaankondiging sal dié maatskappy help om te herstel ná die slag wat covid-19 toegedien het.
“Dit sal positief wees vir die 250 000 werkgeleenthede in die bierwaardeketting.”
Basson sê die bedryf dra R7,2 miljard tot die bruto binnelandse produk by en sowat 50% van Suid-Afrikaanse wyn word teen ’n waarde van R10,2 miljard na meer as 130 lande uitgevoer.
“In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf tans is, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid en finansiële verligting en ondersteuning nodig. Die heffing van aksynsbelastingverhogings in lyn met ons versoek bied ’n mate van verligting aan heelwat wynbesighede wat groot struikelblokke ervaar weens die verwagte kleiner wyndruifoes, die energiekrisis, voorsieningsvoorrade wat uiters ongunstig beïnvloed word deur die voortslepende oorlog in Oekraïne én dubbelsyferverhogings in insetkoste.”
Volgens Basson het buitengewone stygings in aksynsbelasting voorheen net onwettige handel aangeblaas. Dit maak reeds 22% van die plaaslike drankmark uit.
Ontwettige handelaars
Mnr. Kurt Moore, Salba se uitvoerende hoof, sê dit het veral gegeld vir spiritualië wat swaar belas word en die meeste voorkom in die onwettige handel. Volgens hom het onwettige handelaars die geleenthede aangegryp wat deur hoë aksynsbelasting geskep is om aan verbruikers met min kontant maklik toegang te gee tot goedkoper alternatiewe.
“Wettige alkoholiese drank is nou gemiddeld 43% duurder as onwettige alternatiewe. Deur inflasie-verwante aksynsverhogings aan te kondig, raak die speelveld meer gelyk en word onwettige handelaars ontmoedig omdat hul mededingende voordeel verminder word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.