
Met 'n voorspelde toekomstige wêreldwye tekort aan voedsel en die behoefte om die landbou in Afrika 'n hupstoot te gee, is die tyd ryp om bedrywighede na die res van die kontinent en die buiteland uit te brei, sê mnr. David Smillie, uitvoerende hoof van Vipa Holdings.
Dié Durbanse maatskappy wat die landbousektor van grondstof vir kunsmis en dierevoeding voorsien, het 'n samewerkingsooreenkoms met die internasionale landboumaatskappy, Cargill, aangegaan om sy planne te verwesenlik om 'n leier in die kunsmisbedryf in Afrika en die Midde-Ooste te word.
Sy ooreenkoms met Cargill laat hom toe om grootmaat-kunsmis soos ureum, in te voer.
Smillie sê al hoe meer jong- en beginnerboere besef hoe belangrik voedingstofryke kunsmis is. Die ingevoerde NPK word verder verbeter deur mikrovoedingstowwe by te voeg.
Smillie sê Vipa het ook ‘n vennootskap met die finansiële firma Moore Stephens aangegaan wat reeds ‘n groot netwerk reg oor die kontinent het.
“As finansële beplanners sal Moore Stephens ons kan adviseer hoe om ons besigheid in buitelandse markte te laat groei. Met kantore in Afrika sal ons voordeel trek uit hulle finansiële kennis en kontakte,” sê Smillie.
Ten spyte van Zimbabwe se finansiële beperkinge sien Smillie uitstekende vooruitsigte vir die landbou in dié land, asook in Zambië, Namibië, Mosambiek en Angola.