
Die Departement van Omgewingsake het op 4 Desember 2014 nuwe omgewingsregulasies vir akwakultuur gepubliseer wat vanaf 8 Desember van krag is. Dit word in die regeringskennisgewing R 982 tot R 985 vervat en staan bekend as die Omgewingsimpakevaluasie (OIE)-regulasies. Volgens mnr. Etienne Hinrichsen, ’n konsultant in die bedryf, is die veranderinge wat aangebring is aan die regulasies gering, maar baie betekenisvol vir die vooruitgang van die bedryf in sy geheel.
“Projekte wat meer as 200 ton per jaar produseer, kan nou met ’n eenvoudige OIE om omgewingsgoedkeuring aansoek doen. Akwakultuur was onder die vorige regulasies die enigste diereproduksiebedrywighede wat nog onderhewig was aan ’n volledige bestekopname en omgewingsimpakverslaggewing.
“Die ander diereproduksiebedrywighede is slegs onderhewig aan ’n eenvoudige OIE. Dit sal die koste en tyd om nuwe akwakultuurbesighede op die been te bring, verminder, maar merendeels vir die groot operateurs en nie vir die klein en opkomende boere nie,” verduidelik Hinrichsen.
Die regulasie van akwakultuurprojekte is dus effens verslap en die burokrasie is doelbewus verminder om die bedryf ’n hupstoot te gee en meer aantreklik te maak vir nuwe toetreders.
“Dit is onwaarskynlik dat onvoorsiene skade aan die omgewing aangerig sal word gegewe die skaal van akwakultuur in Suid-Afrika. Openbare deelname is steeds ’n komponent van die eenvoudige OIE en omgewingsowerhede behou steeds die reg voor om projekte in sensitiewe areas te kanaliseer deur ’n meer volledige OIE. Dit was nog altyd so dat alle projekte, ongeag die skaal, in ’n sensitiewe ekostelsel, ’n OIE nodig gehad het en dit bly onder die nuwe regulasies so. Die fout wat mense maak is om aan te neem hulle is van alle goedkeuring onder ander wette soos die Waterwet en die Biodiversiteit Wetgewing gevrywaar as hulle ’n projek van minder as 20 ton per jaar bedryf. Dit is egter nie die geval nie en hulle kan verantwoordelik gehou word onder hierdie ander wetgewings,” waarsku Hinrichsen.