
Vrystaat Landbou beoog 'n hersiening van sy struktuur om ’n doeltreffender diens, aangepas by veranderende tye, te kan lewer.
’n Voorstel is op Vrystaat Landbou se afgelope kongres aanvaar wat die bestuur vra om voorstelle hieroor vanaf grondvlak te kry, en met ’n voorgestelde nuwe model vorendag te kom.
Mnr. Henk Vermeulen, uitvoerende hoof, benadruk dat geen finale besluite nog geneem is nie. Op die kongres is bloot voorlopige voorstelle vanaf bestuurskant op die tafel geplaas. Enige hersiening van die bestaande modelle en strukture sal op kongresvlak goedgekeur moet word.
Een belangrike doelwit is om ’n nuwe bedieningsmodel te vestig wat professionele dienste, soos arbeids-, regs- en veiligheidshulp, aan lede kan lewer – dienste waarvoor hulle in elk geval in hierdie stadium dikwels ten duurste elders moet betaal. “Ons wil gaan kyk wat is ons lede se belangrikste behoeftes, en hoe ons daarin kan voorsien.”
Sake-eenheid
Hiermee saam oorweeg Vrystaat Landbou ’n alternatiewe finansieringsmodel, wat ’n sake-eenheid insluit wat die lewering van bepaalde professionele dienste kan finansier. Tans verteenwoordig ledegeld sowat 90% van die organisasie se inkomste, en dit word gevrees dat dit nie ’n volhoubare model vir die toekoms is nie.
’n Verdere voorstel is om ter wille van ratser kommunikasie, besluitneming en funksionering, tak-kantore met betaalde amptenare in die provinsie se vyf distriksmunisipaliteite te vestig. Hierdie kantore kan met die onderskeie verkose verteenwoordigers in VL se huidige 20 streke skakel.
Dit kan onder meer die las verlig van streekverteenwoordigers, wat tans baie van hul werk vir die produsente-organisasie op eie koste verrig, sê Vermeulen.
Mnr. Dan Kriek, herverkose VL-president, het op die kongres onderneem dat die organisasie die volgende ses maande op die vestiging van nuwe strukture en ’n sake-eenheid sal fokus, en dat dit ook vir hom ’n persoonlike prioriteit sal wees.