
Drie verdagtes het volgens ooggetuies verlede Dinsdagaand by Mzimba, ’n veteraan in die stryd teen renosterstropery, se huis in Edinburg Trust naby Hoedspruit aangeklop, oënskynlik om hulp te vra met hul motor wat glo onklaar geraak het. Die mans het etlike skote op Mzimba daar in sy huis voor sy vrou geskiet. Sy het hom glo te hulp gesnel en is ook gewond. Hy het kort ná die skietery aan sy wonde beswyk.
Mzimba was die broer van een van die Swart Mambas, ’n teenstropingsgroep wat net uit vroue bestaan en werksaam is in van die private reservate wat deel vorm van die groter Krugerwildtuin. Uit vrees vir hul veiligheid wou Mzimba se familie nie met die media praat nie en is gevra dat sy vrou, wat in ’n kritieke toestand is, se naam nie genoem word nie. Die Mambas het Donderdag tydens ’n spesiale parade hulde gebring aan Mzimba en hul vlag hang halfstok.
“Veldwagters is wêreldwyd in die spervuur,” het mnr. Craig Spencer, hoof van Trans Frontier Africa, die moederorganisasie van die Black Mambas, tydens die parade gesê. “Daar is die afgelope jaar al 250 veldwagters wêreldwyd vermoor terwyl hulle aan diens was. Nou voel ons die realiteit van hierdie statistieke in ons eie geledere, hier op ons voorstoep. Anton was een van ons. Hy was onverskrokke in sy stryd teen stropers en het nou die hoogste prys vir sy toewyding betaal.”
Huldeblyke het die afgelope week uit alle oorde ingestroom en selfs prins William van Brittanje het sy medelye in ’n verklaring betuig. In ’n spesiale video-opname het me. Barbara Creecy, die minister van visserye, bosbou en omgewingsake, ’n beroep op wetstoepassers gedoen om Mzimba se aanvallers op te spoor en in hegtenis te neem. Soos prins William het Creecy ook al vir Mzimba ontmoet. Hy het ’n sleutelrol in die omgewingsbeskermingforum vir die Groter Krugerwildtuin gespeel en is in 2016 met die jaarlikse renostertoekennings as Veldwagter van die Jaar aangewys.