
Die tyd gaan kom dat vleis – rooivleis en hoedervleis – goedkoper uit Brasilië ingevoer kan word as wat dit plaaslik geproduseer kan word, het prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom aan die Vrystaatse Universiteit, op Piketberg gesê.
Willemse was die genooide spreker op die Wes-Kaapse RPO-jaarvergadering, en het gesê die tyd is hier dat Suid-Afrikaanse rooivleisprodusente aan planne sal moet dink om meer geld te maak met minder.
Terwyl gesprekke in Suid-Afrika gaan oor probleme in die bedryf en wat die Regering gaan doen, bespreek Australiese veeboere hoe hulle meer geld kan maak. "China is Australië se grootste uitvoermark vir feitlik alle kommoditeite, en die Australiese produsent dink aan maniere hoe om elke Chinees net een Australiese tjoppie te laat eet, want dan is hulle in ’n uitstekende posisie", meen Willemse.
"Ons voer die verkeerde debatte in Suid-Afrika. Ons debatte moet gerig wees daarop hoe om meer geld te maak, want dit is waarom boerdery draai."
Oral ter wêreld word landbou-eenhede groter gemaak, maar in Suid-Afrika word klein eenhede aan mense gegee en dan word dit verwag om suksesvol mee te ding teen lande, soos Brasilië, wat beplan om eersdaags 40% van die wêreld se beesvleis te voorsien.
Met Suid-Afrika se verswakkende ekonomie bestaan die gevaar dat namate verbruikers armer raak, hul veel eerder goedkoper hoendervleis sal koop, pleks van duurder rooivleis, het Willemse gewaarsku.
"Hoendervleis is rooivleis se grootste gevaar weens die goedkoper prys. Selfs ’n bekende produsent van braaikuikens (Rainbow Chickens) is besig om weg te beweeg van vleisproduksie, omdat hoendervleis binnekort goedkoper uit Braslië ingevoer sal kan word as wat dit plaaslik moontlik is.”