Die pryse van lewende speenkalwers en lammers was verlede week op die veiling in Kroonstad feitlik dieselfde, iets wat lanklaas (indien ooit) gebeur het.
Kenners in die bedryf is nie seker oor presies wat vir die benoude bokspringe verantwoordelik is nie, maar ’n ooraanbod van lammers, ’n skaarste aan speenkalwers en platsak verbruikers lyk na die beste verklaring.
Op die Kroonstadse veiling het kopers op 10 Januarie gemiddeld R23,00/kg vir speenkalwers ligter as 200 kg betaal, gemiddeld R21,55/kg vir speenkalwers van 200 kg tot 250 kg en gemiddeld R19,54/kg vir speenkalwers swaarder as 250 kg.
Op 12 Desember was dié pryse onderskeidelik R22,43/kg, R21,62/kg en R20,12/kg. In September verlede jaar was dit onderskeidelik R21,08/kg, R19,89/ kg en R18,40/kg. Die wisseling in speenkalfpryse was in dié tyd gemiddeld minder as sowat R2/kg.
Lammers ligter as 30 kg is op 10 Januarie teen gemiddeld R24,39/ kg verkoop en slaglammers teen gemiddeld R21,62/kg. In Desember verlede jaar was die gemiddelde pryse onderskeidelik R25,84/kg en R22,05/kg teenoor die gemiddelde pryse van onderskeidelik R28,51/kg en R27,05/ kg in Augustus. Slaglammers was dus in Augustus sowat R5/ kg duurder.
Mnr. P. J. Muller, bemarkingsbestuurder van die afslaersonderneming CMW Elite op Frankfort, sê die verskynsel van die pryse van speenkalwers en lammers wat só saamloop, is vir hom uiters seldsaam.
Hy meen daar is nou ’n goeie vraag na speenkalwers omdat boere die diere koop om dit self markgereed te kry. Dit is vir hulle makliker om kalwers af te rond as skape. Terselfdertyd is daar nou ’n ooraanbod van lammers omdat die meeste boere dieselfde tyd speen en die lammers oor ’n betreklike kort tyd bemark.
Daarby is die verbruikers platsak ná die Kers- en vakansietyd en voerkraaleienaars sê vleis verskuif nou baie stadig. Hy verwag egter dat met die hoë mielieprys speenkalfpryse binnekort gaan begin daal en dat lamsvleis eersdaags weer duurder gaan word wanneer die aanbod afneem en boere lammers begin soek om op die oesreste van hul bone markklaar te maak.
Klik hier vir die nuutste veilingspryse.
18 Januarie 2012