Die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf, wat R16 miljard jaarliks werd is, word bedreig deur ’n vrugtevlieg wat tans in Limpopo voorkom.
Dié inseksoort, Bactrocera invadens, takel glo veral mango’s en kan tussen 70% tot 100% van mango-oeste vernietig.
Guavas, papajas, piesings en groente, soos soetrissies, pampoen en tamaties, kan ook deurloop. Volgens mnr. Selby Bokaba, woordvoerder van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye, maak vrugte sowat 32% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer uit, berig Business Day.
Die departement het streng kwarantynmaatreëls ingestel om dié plaag te bestry. Daar word egter gevrees dat dié maatreëls moontlik nie suksesvol kan wees nie en dat die vrugtevlieg na ander produksiegebiede in Suid-Afrika kan versprei. Dit kan tot die verlies van uitvoermarkte lei.
Volgens mnr. Jan Hendrik Venter, bestuurder van vroeë waarskuwingstelsels van die departement se direktoraat vir plantgesondheid, is dié vlieë nog nie in Suid-Afrikaanse vrugte gevind nie, slegs in lokvalle.
“Dit wil egter nie sê dis nog nie in vrugte nie. Dit beteken slegs dat geen van die vlieë nog in vrugte gevind is nie,” sê Venter.
Die departement het in ’n verklaring benadruk dat geen vrugte sonder ’n permit Suid-Afrika se landsgrense binnegeneem moet word nie.
Bron: Business Day
11 Mei 2012