
Drie lede van KwaNalu is Donderdag (13 September 2012) tragies oorlede ná die ligte vliegtuig waarin hulle gereis het naby Cato Ridge in KwaZulu-Natal neergeslaan het.
Mnre. Jannie Kemp, Jannie Boshoff en Theuns van Rensburg het dieselfde dag dié organisasie, wat ’n affiliasie van Agri SA is, sê jaarkongres in Pietermaritzburg bygewoon.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê volgens ’n verklaring hy het met groot skok van die boere se heengaan kennis geneem. “Tydens die kongres het ek met van die lede gesels en hulle heengaan is ’n nie net vir Kwanalu ’n verlies nie, maar ook vir Agri SA. Hulle het op verskeie terreine hulle gemeenskap gedien en ’n bydrae gemaak tot ons organisasie.”
Ongeluk
Luidens ’n berig op Nuus24.com sê van die inwoners van die gebied, wat eerste op die toneel afgekom het, dat swart rook in die omgewing sigbaar was toe die vliegtuig geval het. Die ongeluk het omstreeks 17:30 plaasgevind.
Die ongelukstoneel kon nie met ’n voertuig bereik word nie, en reddingswerkers moes vir sowat ’n uur en ’n half oor die berg stap om die wrak te bereik. Die drie mans was reeds oorlede toe die toneel bereik is. Hulle het almal erge brandwonde opgedoen.
Agri SA sê in dié stadium is die oorsaak van die ongeluk nog nie bekend nie, maar hulle vertrou dat die voorval deeglik ondersoek sal word.
Möller sê hulle betreur Boshoff, Kemp en Van Rensburg se heengaan en betuig hulle innige simpatie met die families.
Bron: Nuus24.com