
Vloedwaters het ook die Bethlehem-distrik in die Oos-Vrystaat getref, en skade op plase en in die dorp aangerig.
Mnr. Dirk Viljoen, voorsitter van die Bethlehem-landbouvereniging, sê volgens boere langs die Liebenbersgvleirivier styg dié rivier se vlak “by die minuut.
Die ouens in die dorp is egter hard getref met die onder- en bodorp wat van mekaar afgesny en verskeie ondernemings wat onder water is”.
Dié rivier se water vloei op die ouend in die Vaaldam in, wat weer in die Vaalrivier, en later na die Benede Oranjerivier-distrik invloei. Kyk ook na ‘n album van die skade in die dorp.
Kyk na foto's van die oorstromings.
Nog skade aan koring
Volgens Viljoen het sowat 100mm reën oor die naweek in die gebied geval, en ‘n verdere 50mm Dinsdagaand (25 Januarie) uitgesak. “Dit beteken die ouens kan vir ten minste die volgende week weer nie in hulle lande in nie, en daar is nog redelik baie koring op die lande.”
Mnr. Henk Vermeulen, uitvoerende hoof van Vrystaat Landbou, sê nog geen groot skade is uit die distrik by hulle aangemeld nie, maar swaar reëns het oor groot dele van die provinsie skade aangerig.
“Daar is damme wat gebreek het, plaas- en teerpaaie, brûe en landerye wat weggespoel het.”
Vier keer meer
Intussen sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, die Vrystaat het in Januarie (tot en met Maandag, 24 Januarie) tussen twee en vier keer meer reën as gewoonlik vir dié maand gehad.
“ ‘n Gemiddeld van 200mm is aangeteken, maar in dele soos Marquard en Clocolan, is reeds meer as 300mm aangeteken,” aldus Van den Berg. Boere langs die Oranjerivier hou tans hul asems op, aangesien hulle reeds vloedwaarskuwings vir die naweek ontvang het.
Mnr. Jors van der Westhuizen, ‘n boer van Groblershoop, sê “Ons het vanoggend gehoor dat die rivier tot en met 7.13 meter gaan styg, so dit is omtrent net so hoog as wat hy twee weke gelede geloop het. Met ander woorde die water gaan weereens oral in ons lande loop! Ons hoop natuurlik dat dit nie erger gaan wees as die vorige keer nie!”
27 Januarie 2011