Die skade wat abnormale reënval en vloede vir boere tot gevolg gehad het, het tot ’n verswakking in die landboumaatskappy Suidwes se resultate gelei.
Luidens ’n verklaring sê die groep hoewel sy finansiële resultate vir die 2010/’11-boekjaar verswak het, kon hy met behulp van strategiese skuiwe ’n beduidende winsvlak handhaaf.
Die groep se wins, wat toeskryfbaar is aan aandeelhouers van die houermaatskappy, was R64, 816 miljoen wat 17,2% laer is as die R78,261 miljoen van die 2009/’10-boekjaar.
Die wesensverdienste vir die afgelope boekjaar was 53,1c per aandeel, teenoor 63,2c in die vorige boekjaar. Die direksie het ’n dividend van 13c per aandeel aan aandeelhouers goedgekeur, wat ooreenstem met die dividend wat in die 2009/’10-boekjaar uitbetaal is.
Gemengde welslae
Mnr. Schalk Pienaar, besturende direkteur, sê die 2010/’11-boekjaar was een van gemengde welslae.
Suidwes Fin het sy sterk winslopie van die 2009/’10-boekjaar voortgesit. Die nuwe besigheidseenhede wat onder “tegnologie” geklassifiseer word, het dié afdeling ook goed daarin ondersteun. ’n Kleiner as verwagte verlies is in die meganisasie-afdeling aangeteken.
Die maatskappy meen boere het hul aankooppatrone in die afgelope boekjaar aangepas om die gordel stywer te trek. Dít is veroorsaak deur moeiliker handelstoestande, wat ’n sterk deflasionêre komponent ingesluit het, asook die laer graanpryse.
“Grootskaalse aankope wat tradisioneel in Februarie plaasvind, het nie gebeur nie,” lui die verklaring.
Aandag
Mnr. Pierre Vercueil, voorsitter van die direksie, sê hoewel hulle tevrede is met die groep se prestasie in die afgelope boekjaar, het die verlaging in wins nie hul aandag ontglip nie.
Die direksie meen egter dat die nodige tydige stappe op strategiese vlak ingestel is om ’n verdere verlaging in winste te voorkom.
Pienaar sê die swakker resultate kan grootliks aan eksterne faktore toegeskryf word. Dit kon veel laer gewees het as dit nie vir die goeie prestasie van die groep se personeel was nie.
“Ek is vol vertroue dat die maatreëls om koste te bespaar en die optrede vir die verbetering van wins in die volgende boekjaar vrugte sal afwerp.“
26 September 2011