
Die IDC het R750 miljoen beskikbaar gemaak vir hulp na die vloede vroeër vanjaar en die erge droogtes die afgelope maande.
Mnr. Geoffrey Qhena, hoofbestuurder van die IDC, sê die fondse sal spesifiek beskikbaar gemaak word vir sake-ondernemings wat deur die vloede of droogte geraak is – wat boere insluit.
“Die ondernemings sluit boerderye ook in. Ons weet in die groter prentjie is dié geld nie baie nie, maar ons hoop dit kan help,” aldus Qhena. Hy het die aankondiging Dinsdag (22 Februarie) tydens ‘n mediakonferensie in Johannesburg gemaak.
Volgens Qhena sal R500 miljoen van dié bedrag beskikbaar gemaak word vir ondernemings wat spesifiek binne die IDC se mandaat val, en dit sal teen ‘n rentekoers van die prima rentekoers minus 3% geleen word.
Die ander R250 miljoen?
Die oorblywende R250 miljoen sal aan die Land Bank geleen word sodat landbou-ondernemings wat nie binne die OOB se mandaat val nie, ook toegang tot die fondse kan hê. Qhena sê die ondernemings moet standhoudend wees en hulle moet hulle probleme en krisisse weens die vloede of droogtes duidelik kan demonstreer.
Belangstellendes moet binne die geldjaar van 1 Maart 2011 tot 31 Maart 2012 vir dié fondse aansoek doen. Qhena sê hulle wil nie die aansoeke oor ‘n langer tydperk uitstrek nie, aangesien hulle die fondse so gou moontlik by die aansoekers wil uitkry sodat produksie en werksaamhede na normaal kan terugkeer.
23 Februarie 2011