Ná die tweede vloedwaters vir die seisoen verlede week deur die Noord-Kaap beweeg het, het die skattings van oesverliese dramaties gestyg. Mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, sê na die eerste vloede is sowat 2 000 ha se wingerde en ander wisselbougewasse beskadig.
“Nou reken die ouens tot 5 000 ha is beskadig, en waar die wingerdboere - wie se druiwe voor die eerste vloed reg was vir oes - vroeër verwag het om 80% van hulle oes af te kon kry, word nou geskat slegs 40% van dié oes kan afkom.
Ander wat geskat het dat hulle nog 50% van hulle oes en gewasse sou kon red, sê 25% van dít staan tans onder water,” vertel Van Rensburg.
Totale opname
Volgens Van Rensburg is hulle tans besig om ‘n totale opname van die skade te doen, maar dit is ‘n tydsame proses omdat boere steeds wag vir die water om af te loop.
“Op Upington is die watervlak steeds op 6 m, en die water loop stadig af. Sowat 800 vraelyste is uitgestuur, en ons verwag terugvoer later vandeesweek of volgende week.”
Bykomende weersomstandighede maak dit ook vir boere moeilik om skadebepalings ensovoorts te doen. “In sommige gebiede is dit baie bedompig, ander kry groot reën en Groblershoop het verlede week ‘n groot haelstorm gehad,” aldus Van Rensburg.
Regeringsaksie ís nodig
Intussen sê dr. Tobias Doyer, hoof van Santam Landbou, hoewel risikoversekering ‘n belangrike bestuurskomponent vir ‘n boer is, eis ‘n voorval wat op dié skaal plaasgevind het optrede van die Regering.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het vroeër gesê hulle sal boere wel kan bystaan met hulpfondse vir beskadigde infrastuktuur, maar hulle kan nie help met vergoeding vir verlore oeste nie.
Doyer meen die Regering het ‘n kritieke rol om te speel om boere by te staan rondom rampbestuur. “Die Regering moet optree en hulp verleen tot voordeel van nasionale voedselsekurteit en die ekonomie. Daar is ‘n behoefte vir ‘n rampbestuurbeleid in Suid-Afrika.”
Die Regering het tot dusver rampe op ‘n ad hoc-basis hanteer, sê Doyer. Dié benadering is egter nie volhoubaar nie en lei tot fiskale onvoorspelbaarheid. Versekering, aan die ander kant, hanteer eise vinnig, maar kan nie natuurlike rampe bestuur sonder die nodige Regeringsamewerking nie.
Subsidies vir premies
Doyer sê een van die groot uitdagings vir boere is dat skade aan gewasse nie deur ramphulpbeleid gedek word nie, maar in ander lande soos Brasilië maak die Regering voorsiening vir gewasversekering.
Volgens ‘n Wêreldbank-verslag bied twee derdes van die lande wat deelgeneem het subsidies vir versekeringspremies vir die landbou, en dié subsidies beloop gewoonlik tot 50% van die aanvanklike premie.
8 Februarie 2011