Weens die verwoestende vloede en reënskade in die Oranjerivier-streek sal die totale wyndruifoes vanjaar selfs kleiner wees as 2010 se rampspoedige oes.
Grootskaalse oesverliese is in oorstroomde Noord-Kaapse wingerde opgemerk en swamsiekte-besmettings het ander blokke verniel. “Daar word geraam dat minstens 36 000 ton druiwe van die aanvanklike verwagte wyndruifoes deur die vloed en reën vernietig is – hierdie syfer mag dalk verhoog,” sê me. Yvette van der Merwe, hoofbestuurder van Sawis (die Suid-Afrikaanse Wynbedryf- en inligtingstelsels), in die jongste oesskatting.
Sewe van die nege wynproduserende streke verwag egter ‘n toename in produksie.
Die totale oes word tans op 1255 561 ton geskat. Die wynoes (sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit) sal sowat 969,3 miljoen liter beloop. Dit is sowat 0,3% kleiner as verlede jaar. Wingerdboukundiges verwag egter dat dit selfs kleiner sal wees soos parstyd einde se kant toe staan.
In 2010 het die bedryf een van sy kleinste oeste in ‘n lang tyd afgehaal. Tóé het sterk wind in blomtyd en donsskimmel later in die seisoen boere geknou. Boere was optimisties dat hulle in 2011 ‘n goeie, gemiddelde oes sal afhaal.
Mnr. Henning Burger, wingerdboukundige by Oranjerivier-wynkelder, sê daar is produsente wat hul totale wyndruifoes verloor het. Hierdie boere speel “oorlewingspeletjies” soos om insette te minimaliseer en arbeidskoste in te perk. Hulle het wingerde gekategoriseer volgens geen skade, wingerde waar die water ingestoot het, maar nie die tros- of blaarsone bereik het nie en wingerde waar water wel die trosse en blare bereik het.
In laasgenoemde blokke sal vegetatiewe hergroei nou gesien word, eerder as dat die wingerde reserwes opbou. “Dit sal dus ‘n oordrag-effek na volgende jaar hê.”
Van der Merwe sê met uitsondering van die Oranje- en Olifantsrivierstreke het lae watervlakke en beperkte besproeiingswater ook ‘n impak op die grootte van die oes. Hittegolwe het aanleiding gegee tot sonbrand- en hitteskade. “Die grondwaterstatus van droëlandwingerd is laag en wingerde toon simptome van vogstremming.”
Wynmakers en wingerdkundiges is tevrede met die gehalte van druiwe wat tot dusver gepars is. Druiwe is meestal gesond met goeie ontledings, en veral rooi kultivars se gehalte blyk in hierdie stadium uitstekend te wees.
Binnelandse verkope van natuurlike wyn vir 2010 toon dat die mark met 2.7% gegroei het. Daarteenoor het uitvoere van totale natuurlike wyn gedurende 2010 met 4.6% gedaal. Brandewynverkope toon ‘n 7.0%-daling gedurende dieselfde periode.
Die voorraadvlak op 31 Desember 2011 by produsente- en privaatkelders sal na raming tot ‘n vlak van 314,1 miljoen liter daal, vergeleke met 338,3 miljoen liter op 31 Desember 2010.
23 Februarie 2011