Vloedskade in die landbou en die moontlike toekenning van fondse gaan binnekort voor die Kabinet dien, sê Agri SA.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van dié organisasie, sê na verwagting is die bespreking van die skadeberamings en moontlike hulp vir die laaste week van die maand geskeduleer.
Wat betref die hulpfondse wat pres. Jacob Zuma Donderdagaand (10 Februarie) in sy Staatsrede as hulp vir vloedgeteisterde gebiede beloof het, sê Möller hulle hoop dat boere ook van dié fondse sal ontvang.
Hulp moet vinnig kom
“Ons het dit vroeër vir die Minister (Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye) duidelik gemaak dat vloedhulp dringend nodig is sodat boere binne die volgende jaar na volle produksie kan terugkeer, en so kan werksverliese ook voorkom word.
"Die proses kan nie oor twee of drie jaar sterk nie. Al die finansiële instellings wat ons vir hulp en verlengde krediet genader het, was inskiklik, maar die Regering moet ook hulle deel doen om te sorg dat boere weer op hulle voete kan kom,” vertel Möller.
Möller sê die vloedskadeberamings wat hulle aan die minister deurgegee het, was plaasinfrastruktuur van “goed oor R1 miljard”, en dan oesverliese van “net oor R1 miljard”.
Wat Zuma se opmerkings oor nuwe werksgeleenthede in die landbousektor betref, sê mnr. Ben Marias, voorsitter van TLU SA: “Totdat die Regering met verbeeldingryke en geloofwaardige hulp vir rampgeteisterde boere vorendag kom, veral in die huidige ekonomiese klimaat, sal die landbou geen nuwe werksgeleenthede oplewer nie.”
11 Februarie 2011