Ná die landbou aansoek gedoen het om ramphulp van R1,14 miljard weens oorstromings vroeër vanjaar, is R149 miljoen beskikbaar gestel.
Mnr. Koos van Zyl, ’n verteenwoordiger van Agri SA, sê dit sal in die Begrotingsrede in Februarie aanstaande jaar bekend gemaak word watter deel van die oorblywende geld wat versoek is, toegeken sal word.
Hy sê die geld moet teen 31 Maart aanstaande jaar klaar bestee wees. “Dis ’n baie kort tydperk, veral met die feestyd tussendeur, maar ek het die manne gevra om alles so gou moontlik te probeer reël.”
Noodwalle
In die Noord-Kaap, waar die grootste skade gely is, sal die sowat R132 miljoen wat die provinsie gekry het, grotendeels gebruik word om noodwalle te herstel. Van Zyl sê dit is die eerste voorrangsaak wat vir dié provinsie geïdentifiseer is.
Kommer bestaan oor of dié geld genoeg gaan wees, en of die hele proses van herstel betyds afgehandel sal wees. Die herstelwerk moet deur ingenieurs behartig word, en tenders moet voor die sperdatum ingedien word.
Van Zyl sê hulle is nie seker of dié geld betyds beskikbaar sal wees nie, want daar is gevrees dat baie boere hul bedrywighede moes staak weens veral die oesskade wat hulle gely het.”Vroeër is voorspel dat tot ’n derde van die boere dit nie sal maak nie.”
Ander provinsies
Vyf ander provinsies het ook elkeen ’n stuk van die koek gekry. Aan die Oos-Kaap is R997 000 bewillig. Die Vrystaat en Gauteng het onderskeidelik R4 736 miljoen en R1 745 miljoen ontvang. Aan Limpopo en Noordwes is onderskeidelik R8 475 miljoen en R1 745 miljoen toegestaan.
Van Zyl sê op ’n vergadering van die nasionale raadgewende forum oor rampbestuur is besluit dat twee oorsigkomitees deel van die fondse se toedelingsproses moet wees. Dít is om seker te maak die geld word reg aangewend.
Een van die komitees sal op nasionale vlak bedrywig wees en die ander een op provinsiale vlak. Die nasionale komitee moet aan die inter-departementele komitee en die inter-ministeriële komitee verslag doen, terwyl die provinsiale tesourieë en die provinsiale ramphulpfondse by die provinsiale komitees betrokke moet wees.
17 November 2011