Die skade wat vloede vroeër vandeesmaandmaand en verlede maand in die landbou aangerig het, word op sowat R2,8 miljard geskat, aldus Agri SA.
Luidens ‘n berig op Nuus24.com het mnr. Johannes Möller, voorsitter van dié organisasie, Maandag (21 Februarie) tydens ‘n konferensie in Somerset-Wes gesê sowat 30 000 seisoenwerkers het ook hul inkomste weens die vloede verloor.
Die landbousektor verskaf sowat 55 000 tydelike werksgeleenthede aan werkers wat gewoonlik in dié tyd help om oeste in te bring, veral in die wingerdbedryf.
Binne ‘n jaar in produksie
“Die boere sal self op lang termyn regkom, maar ons wil hê die Regering moet dié boere bystaan om binne ’n jaar weer in produksie te wees. Dit sal help om voedselsekuriteit te verseker en weer werk gee aan dié mense wat dit nou verloor het,” sê Möller.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het verlede maand gesê die Regering is bereid om te help met infrastruktuurskade op plase, maar hulle kan nie instaan vir oesskade wat boere gelei het nie. Hulle kan wel finansiële instellings nader om te vra dat boere ten opsigte van leningsbetalings oor vasgestelde tydperke begenadig word.
“Ons vra nie van die Regering om vir alles te betaal nie. Ons vra net dat hy dié boere help om weer produktief te word,” verduidelik Möller.
22 Februarie 2011