Vloedskade in die landbou word tans bereken op R1 miljard wat infrastruktuur aangaan, en R1 miljard rakende oesverliese.
Dit is volgens mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA. Hy was deel van ‘n paneel, wat me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye ingesluit het, wat vandag (25 Januarie) die media in Pretoria toegespreek oor die vloede regoor die land.
Me. Tina Joemat-Pettersson en dr. Pieter Mulder tydens die mediasessie in Pretoria. Foto: ALANI JANEKE
Die minister het alle boere aangemoedig om hulle skade te vermeld aan hul onderskeie landbouverenigings, sodat ‘n finale syfer so vinnig as moontlik beskikbaar kan wees en die proses van hulpverlening kan begin. “Ons verstaan dat nie al die skade al bereken kan word nie aangesien die water nog nie orals behoorlik gedaal het nie.”
Joemat-Pettersson sê hulle het wel die onderskeie verenigings betrokke by die paneel, wat Agri SA, die TLU SA en Nafu insluit, versoek om teen Vrydag (28 Januarie ) meer duidelike syfers beskikbaar te stel aan die departement.
Hulp?
Volgens die minister gaan die departement hulp aan boere verleen in die vorm van saad- en kunsmisverskaffing, en die herstel van damme, kanale en ander plaasinfrastruktuur.
“Ons besef die enormiteit van die krisis en ons wil die boere help om so vinnig moontlik weer produksie te hervat. Dit is krities dat produksie spoedig na ten minste ‘n vlak van 80% kan herstel, ook vir die land se voedselsekerheid.”
Kyk na twee fotogalerye van die vloedskade.
Dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê hoewel die departement nie hulp gaan kan verleen in die vorm geldelike vergoeding nie, sal hulle wel die maksimum moontlike hulp aan boere verleen.
Onderhandelinge met banke
Joemat-Pettersson sê hulle het ook onderneem om te onderhandel met banke en ander landbou-ondernemings om boere tegemoet te kom rakende hulle skuld.
“Ons kan boere se rekeninge en skuld nie letterlik betaal nie. Maar ons gaan wel met die banksektor en ander instansies onderhandel om boere beter terme te gee en om die betaling van skuld oor langer tydperke te versprei. Die hoofdoel van ons projek en hulp is om seker te maak dat elke boer hierdie vloede oorleef,” aldus die minister.
Sy sê hulle is ook bewus van die moontlikheid van nog vloede wat voor die einde van die reënseisoen in Maart kan voorkom, en die onderskeie partye betrokke het ook medium- en langtermynprobleme en -oplossings vir vloede bespreek, sodat só ‘n gebeurtenis nie jaarliks sal voorkom nie.
25 Januarie 2011