Die voorwaardes vir die uitbetaling van vloedskadegeld in die Noord-Kaap veroorsaak groot probleme, sê Agri Noord-Kaap.
Mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder, sê sedert R131 miljoen aan die landbou in die provinsie toegeken is, het hulle bewus geraak van ’n riglyn wat bepaal dat sekere boere bepaalde bedrae moet ontvang.
Dié geld is toegeken ná erge oorstromings langs die Vaal- en Oranjerivier verlede jaar voorgekom het.
“Die riglyn bepaal dat ’n kommersiële boer slegs 50% van die skade op sy plaas mag ontvang, die res moet hy self betaal. Verder sal ’n opkomende boer vir 20% van die skade op sy plaas verantwoordelik wees, terwyl ’n bestaansboer 10% van sy koste sal moet absorbeer,” verduidelik Van Rensburg.
Reeds betaal
Van Rensburg sê baie boere meen dié riglyn is nie regverdig nie, aangesien hulle reeds uit hul eie sak betaal het om van die skade te herstel. “Waar boere tot finansiering toegang gehad het, het hulle dit reeds aangewend. Maar baie het nie toegang tot ekstra finansiering nie, so hoe moet hulle bydra?”
Vrae bestaan ook oor watter boer verantwoordelik gehou word vir skade aan ’n keerwal op een plaas wat moontlik verskeie plase raak. “Die mos onregverdig dat een boer vir daardie keerwal moet betaal terwyl dit dalk ’n klomp van sy bure beïnvloed.”
Samewerking
Agri Noord-Kaap en die provinsiale departement van landbou werk tans nou saam om voorstelle vir wysigings aan dié riglyne aan die nasionale departement en ander belanghebbendes voor te lê. Van Rensburg sê die situasie het ontstaan aangesien betrokkenes nie voldoende geraadpleeg is nie.
“Ons is dankbaar vir die geld, maar daar moet maniere gevind word om dié soort fondse doeltreffender te bestuur. En ons meen dat die skep van ramphulpskemas so iets goed kan hanteer, want tans sit ons in ’n doolhof,” aldus Van Rensburg.
Die Tesourie het vroeër aangedui dat die toegekende geld teen 31 Maart 2012 bestee moet wees, anders sal dit verbeur word.
6 Februarie 2012