
Drie weke na die tweede sarsie vloedwaters deur die Noord-Kaap beweeg het, staan die water steeds in lande en wingerde.
Mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê hulle voorspellings dat groot dele van boere se oeste, veral druiwe-oeste, gered kan word, is intussen ook daarmee heen.
“Toestande is vanjaar totaal ongunstig vir ‘n wingerdboer in die Noord-Kaap,” merk Van Rensburg op. Hy sê hoewel van die druiwe gered en geoes kon word, veroorsaak reën tans dat baie van die druiwe sleg word. Dié reën dra ook daartoe by dat water nie vinnig uit landerye en wingerde dreineer nie en dat die riviere op hoë vlakke stabiliseer wat veroorsaak dat water steeds by gebreekte noodwalle instoot.
Vrot rosyne
Mnr. Jors van der Westhuizen, ‘n boer van die Grootdrink-distrik, beaam Van Rensburg se opmerking. “Ek sit met 120 ton rosyne wat tans op die bane lê om te droog, maar dit reën elke dag so die goed bly klam en nou begin vrot. Ons het begin om die goed te spuit, maar die probleem is met die bietjies-bietjies reën bly dit net nat.”
Van der Westhuizen sê hy kon van Woensdag af in sy wingerde inkom, maar al die druiwe wat nog oor was en nie in die water gehang het nie, het gevrot. “Van die mielie- en katoenaanplantings is daar niks oor nie, dit het alles versuip.”
“Ons kan nou eers regtig die skade begin sien, en van die ouens wag steeds dat die water afloop dat hulle in hulle lande kan inkom,” vertel Van der Westhuizen.
Regering dalk ernstig?
Van Rensburg sê hoewel dit vir baie boere tans ‘n situasie is van wag en sien rakende skadebepalings, blyk dit of die Regering met erns optree ten opsigte van hulp aan boere.
“Die departement bel gereeld om te hoor wat gebeur met skadebepalings. Ons kry so drupsgewys inligting met die vraelyste wat die ouens aan ons terugstuur as hulle hul skade kon bepaal. Mens kry egter die indruk dat die Regering besig is om met erns te kyk na hulp en watter tipe hulpverlening rondom infrastruktuur nodig is.”
17 Februarie 2011