Suid-Afrika sal stappe moet doen om sy vrystelling van kweekhuisgasse drasties te verminder, aldus die Verenigde Nasies (VN).
Luidens 'n berig in Beeld (15 September 2011) het me. Veerle Vandeweerde, direkteur van omgewing en energie van die VN se ontwikkelingsprogram in Suid-Afrika, dié waarskuwing tot me. Dipuo Peters, die Minister van Energie, gerig.
Volgens Vandeweerde is die land se inisiatiewe om sy koolstofspoor te verklein “goed”, maar meer moet gedoen word. Suid-Afrika is tans een van die tien grootste lugbesoedelaars ter wêreld.
Hernubare energiebronne
Intussen sê Peters dit is “dringend en noodsaaklik” dat die land vinnig moet oorskakel na hernubare energiebronne en wegbeweeg van steenkool as sy primêre bron van energie. Sy sê die land is daartoe verbind dat 4% van sy energie teen 2013 deur hernubare bronne opgewek sal word.
Een van die departement se doelstellings is om teen 2014 een miljoen sonverhitte warmwatertoestelle aan Suid-Afrikaners beskikbaar te stel.
Volgens Vandeweerde neem die prys van fossielbrandtsowwe so vinnig toe dat dit goedkoper is om hernubare bronne te gebruik pleks daarvan om brandstof uit steenkool en olie te produseer.
Kalklig
Intussen was die land se program vir hernubare energie die afgelope week in die kalklig op die departement se konferensie vir belangstellende bieërs vir die program.
Luidens 'n berig op Engineering News (15 September 2011) het sowat 870 afgevaardigdes die konferensie bygewoon, wat belangstellendes van Noord-Amerika, Europa en Asië ingesluit het. Die program se doelwit is om 3 725 megawatt teen 2016 opwek.
Die tenderdokumente is op 3 Augustus 2011 beskikbaar gemaak. Die eerste aansoeke moet teen 4 November 2011 ingedien word. Die goedgekeurde bieërs sal op die VN se 17de konferensie oor klimaatsverandering in Durban bekend gemaak word. Dit is een van die grootste programme vir hernubare energie wat wêreldwyd onderneem word.
Bronne: Beeld en Engineering News
15 September 2011