’n Boer en voedingskundige van Mpumalanga is gisteraand (22 Januarie 2012) doodgeskiet in waarskynlik die vierde plaasmoord vanjaar.
Mnr. Francois du Toit, wat as voedingskundige by Alzu Voere gewerk het, is op die plaas Kwalata naby Roossenekal in Mpumalanga aangeval. Mnr. Henk den Graaf, woordvoerder vir die TLU SA, sê Du Toit het sy honde op die plaas hoor blaf en gaan ondersoek instel. Hy is glo geskiet pas nadat hy die voordeur oopgemaak het.
Volgens ’n kollega van Du Toit by Alzu Voere wat nie sy naam genoem wil hê nie, was daar vermoedelik drie aanvallers by die plaasmoord betrokke. Hulle het Du Toit se vrou en kinders vasgebind en met vuurwapens en selfone in twee van die egpaar se voertuie gevlug. Die voertuie is later op die plaas teruggevind.
Geweldige slag
Volgens dié kollega was Du Toit ’n gewaardeerde kollega en is sy dood ’n geweldige slag vir die maatskappy. Intussen sê Van den Graaf dat die TLU SA baie bekommerd is oor die aantal plaasmoorde en -aanvalle wat tot dusver vanjaar plaasgevind het.
“Daar was sover vier plaasmoorde en vyf aanvalle volgens ons rekord. Drie van die plaasmoorde was in Noordwes en nou dié een in Mpumalanga. Dit is baie kommerwekkend. As die res van die jaar teen dieselfde trant voortgaan, gaan dit ’n swart en bloederige jaar wees,” sê Van den Graaf.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kon nog nie bereik word vir kommentaar nie.
23 Januarie 2012