’n Klemverskuiwing het plaasgevind van die bekostigbaarheid van kos na die beskikbaarheid daarvan.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, meen daar gaan ’n punt kom waar die wêreld genoeg geld sal hê om kos te koop,maar dan sal daar nie voedsel beskikbaar wees nie.
“Wat kan ons doen om voedselsekerheid in Suid- Afrika en veral op die vasteland op ’n stabieler plek te kry? Verstedeliking neem toe en die ontvolking van die platteland gaan voort. Infrastruktuur verswak. Hoe het dit ’n invloed op hoe mense eet?” het De Villiers by die Agri Megaweek gevra.
“Sedert 2008 sê die Regering die landbou is ’n ‘voertuig’ waarmee hy armoede wil oplos. Dit beteken ons is ’n voertuig na die ekonomiese werklikheid. En vir die ekonomie moet ons ’n voertuig met brandstof en paaie sonder slaggate gee. Dit is hoekom die landbou goed georganiseer moet wees.”
Ontwikkelende boere produseer
Volgens De Villiers is daar deesdae meer swart boere as wit boere op Graan SA se ledelys. “Ek dink dit is tyd dat die ouens daarvan begin kennis neem. Daar is meer as 3 600 swart boere in ons studiegroepe.”
Volgens hom is dit net grensdrade wat kommersiële en ontwikkelende boere van mekaar skei. Ontwikkelende boere wat deel uitmaak van Graan SA se programme produseer sowat 3 ton mielies per hektaar. Aan die koringfront is hul gemiddelde produksie sowat 1,5 ton per hektaar.
Dit vergelyk goed met kommersiële boere se produksie van onderskeidelik 4,5 t/ha en 2 t/ha. “Ek dink ons is besig om die gaping toe te maak,” het De Villiers gesê.
4 Oktober 2011