
Prof. Marcos Fava Neves, ‘n markstrateeg verbonde aan die Universiteit van Sao Paulo in Brasilië, sê in dieselfde tyd “gaan dinge in ons lande (die vyf vinnigste groeiende ontwikkelende lande) gebeur.”
Neves was ‘n genooide spreker op die Landboubesigheidskamer (Agbiz) se tweejaarlikse kongres in die Drakensberg.
Volgens Neves is een van die grootste uitdagings wat die landbou wêreldwyd in die gesig staar, die groot aantal bedrywe wat op dié sektor se voorrade aanspraak maak. Hy sê sowat 20 jaar gelede was die voedselbedrywe basies die meeste afhanklik van die landbou, maar vandag ding tot 14 bedrywe om landbouprodukte mee. Dit sluit die voedsel-, voer-, brandstof-, elektisiteit- en tekstielbedryf in.
Troeteldierkos gaan invloed uitoefen
Nóg ‘n bedryf wat volgens Neves ‘n groot invloed op landbouproduksie het en uitdagings gaan meebring, is dié van troeteldierkos. Volgens voorspellings kan dié bedryf se inkomste in 2015 wêreldwyd op sowat $56 miljard te staan kom, en dít kan tot $96 miljard teen 2017 spring. “Dit is ‘n sprong van $40 miljard in twee jaar.”
‘n Ander uitdaging vir produktiwiteit is maatskaplike faktore en teenkanting deur verbruikers teen die gebruik van geneties gemodifiseerde gewasse in sekere lande en gemeenskappe. Neves sê een van die belangrikste maniere om dié uitdaging aan te spreek, is om te verseker die regte feite word aan verbruikers en die markte gekommunikeer.
Grondwaardes in Engeland
Studies in Engeland wys dat die waarde van landbougrond in dié land die afgelope 10 jaar met 204% toegeneem het. “Dus, as ‘n bate in dié tyd twee keer meer waardevol kan raak, is dit ‘n teken dat produksie op dié grond ten minste moet verdubbel,” verduidelik Neves.
Hy meen een van die belangrikste maniere om die uitdaging van ‘n voedselkrisis en hoër produksie aan te spreek, is “kollektiewe optrede”. Hy sê die onderskeie bedrywe moet begin saamwerk om koste te verlaag en produksie te verhoog. “So, vir die volgende 10 tot 15 jaar gaan ons meer moet doen met minder.”