’n Grootskaalse voedselkrisis word in 2012 in Wes-Afrika verwag mits voorbereidings nie betyds getref word nie, sê Oxfam, ’n liefdadigheidsagentskap.
Luidens ’n berig op News24.com sê die agentskap miljoene mense kan van hongersnood gered word mits owerhede en hulpverleningsorganisasies betyds optree.
“Met vroeër voorspellings wat op ’n voedselkrisis in 2012 dui, met mense in Niger, Burkina Faso, Mali en Tsjad wat spesifiek geraak kan word, is dit nou tyd om voorkomende stappe te doen,” aldus Oxfam.
Volgens die agentskap moet regerings oor die hele streek maatreëls verskerp om te verseker hul burgers het toegang tot geld om kos mee te kan koop en dat hulle voer kry om hul vee mee te voer. Krisis-voedselvoorraad moet ook bymekaargemaak word sodat dit betyds uitgedeel kan word.
Faktore
’n Reeks faktore is reeds aangedui wat tot ’n voedselkrisis kan lei. Dié faktore sluit in lae reënval en watervlakke, klein oeste, ’n tekort aan weiding, hoë voedselpryse en ’n afname in geldelike hulp aan vlugtelinge.
Die produksie van graan het ook gedaal, met tot 50% minder graan wat in Mauritanië en Tsjad geproduseer is. Volgens aanvanklike syfers kan die voedselkrisis sowat 6 miljoen mense in Niger en 2,9 miljoen mense in Mali raak.
Bron: News24.com
13 Desember 2011