Indien boere die groeiende bevolking tot in 2050 wil voed, sal voedselproduksie oor die wêreld heen met sowat 70% opgestoot moet word. Mnr. Lourie Bosman, DA skaduminister van landbou, het gisteraand (24 Februarie) op Philadelphia se boerevereniging gesê Suid-Afrikaanse boere is in ‘n baie gunstige posisie.
Nie net is daar ‘n mark vir hul produkte nie, maar daar is ook uitbreidingsmoontlikhede in Suid-Afrika waaroor die ontwikkelde wêreld nie beskik nie. Terselftertyd geld die ongelukkige situasie dat “internasionale konglomerate” die voedselketting en wêreldwye voedselpryse beheer.
Boere is belangrik
Bosman sê die ontwikkelde wêreld besef die belangrikheid van hul boere, en daarom geld swaar subsidies. “In baie van die lande is die boerderye so klein dat hulle glad nie in Suid-Afrika sou kon oorleef nie, maar die regerings weet die boere hou die landelike omgewing aan die gang en daarom help hulle die boere.
"Die ontwikkelde wêreld het nie verskriklike uitbreidingsmoontlikhede nie. Hulle moet by tegnologie berus om verder te ontwikkel. Die ontwikkelende lande is egter toenemend besig om te ontwikkel.”
Volgens hom sal Brasilië, een van die grootste landboulande, se landbouproduksie met sowat 40% styg oor die volgende dekade.
Die Oosbloklande soos Rusland, die Oekraïene, China en Indië het ook “geweldige potensiaal” en is dikwels op klein boerdery-eenhede aangewese.
Sowat 85% van Chinese boere boer op minder as 1 ha grond.
Bosman voorspel koringpryse sal die volgende tien jaar met 20 -40% styg, groentepryse met meer as 40% en suiwel met 45%.
Pryse is onstabiel
“Maar ons lewe in ‘n onstabiele wêreld,” het hy met verwysing na prysfluktuasies en die politieke situasie in Suid-Afrika gesê. Hy het ook wetgewing (soos verblyfreg en arbeidswetgewing) en tegnologiese agteruitgang die skuld gegee vir probleme in Suid-Afrika se landbou.
“Hoekom sukkel Suid-Afrika? Ons politieke bestel is ongelooflik onstabiel en die politici het nie begrip vir die landbousektor nie. Hulle verstaan nie hoe dit werk nie.”
Bosman het ook gesê landbou-organisasies moet meer betrokke raak by die waardeketting om só waarde toe te voeg.
“Ons kan verwerkingsaanlegte oprig en Patel (mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling) het geld daarvoor beskikbaar om ons aan te moedig om ons waardeketting te vergroot.”
Op ‘n ietwat meer kontroversiële noot het Bosman gesê dit is die enkelkanaalbemarkingstelsel wat die produsent die beste beskerm. “Dit bereken die insetkoste en die wins en gee vir die regering ‘n aangekondigde prys.”
25 Februarie 2011