
Die staat poog om beleidsvoorstelle onmiddellik (asook op medium- en lang termyn) op die tafel te sit om stygende voedselpryse die hoof te bied. Die Kabinet het die stap goedgekeur weens die ergste droogte in 30 jaar in Amerika wat Suid- Afrika se voedselsekerheid in die gedrang kan bring. Die droogte kan meebring dat veral die prys van vleis en grane die hoogte inskiet en dat die armstes van die armes nie voedsel sal kan bekostig nie.
Voedselsekerheid groot bron van kommer
Mnr. Ronald Ramabulane, hoof- uitvoerende beampte van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), sê die strategie vir voedselsekerheid is tans een van die grootste bronne van kommer. Hy het onderneem dat die komitee so gou moontlik ’n voorstel aan die Kabinet sal voorlê vir goedkeuring.
Mnr. Steve Galane, woordvoerder van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê daar is ’n toenemende vraag na biobrandstof, en grondstowwe daarvoor is min weens die droogte in Amerika wat tot die styging in pryse bydra. Hy sê op die kort termyn word daarna gekyk om met die skoolvoedingsprogram in vakansietye voort te gaan. Meer as agt miljoen leerders word ingevolge dié program gevoed.
Die Kabinet het die stap verwelkom en gesê hoewel hy daarvan bewus is dat die land voedselsekerheid geniet omdat daar genoeg kos beskikbaar is, is hy bekommerd dat talle huishoudings min (of geen) koopkrag het. Boonop het heelwat bestaansboere nie die nodige hulpbronne om kos vir hulself te produseer nie. Landbouministers van die G20- lande het verlede jaar ’n beroep gedoen vir groter deursigtigheid in kommoditeitsmarkte en ’n verhoogde toename in produktiwiteit om die wisselvalligheid van kospryse te bedwing.