
Net soos hul eweknieë regoor die wêreld ondervind plaaslike aasvoëls ’n voedselkrisis. Me. Kate Webster van die Cape Vulture in Crisis-projek in die Oos-Kaap het mees onlangs ’n versoek gerig om hulp met aasvoëls wat in die Dordrecht-omgewing skape aanval.
’n Boer in dié gebied is besorg nadat aasvoëls aangeval het en wil weet hoe hy so iets kan voorkom. Volgens dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, is die soort optrede ’n teken van voedseltekorte onder die voëls. Dit is ongewoon vir aasvoëls om lewendige prooi aan te val en in die afgelope twintig jaar is soortgelyke gevalle in die Oos-Kaap, Kalahari-gebied en doe Noord-Kaap aangemeld.
Boere versag gewoonlik die uitwerking van oorhonger aasvoëls deur karkasse in die omgewing beskikbaar te maak in aasvoëlrestaurante, maar dit is ’n tydelike oplossing. Boere word aangeraai om met me. Webster of me. Kerri Wolter van VulPro en die Griffon-gifinligtingsentrum in verbinding te tree om seker te maak die vleis wat hulle uitsit is nie skadelik vir die voëls nie.
Indien boere beseerde of vergiftigde aasvoëls teekom kan hulle vir me. Webster by 045 839 4716 of 082 702 5942, me. Wolter by 082 808 5113 of dr. Verdoorn by 082 446 8946 kontak.
Die Griffon-gifinligtingsentrum bedank boere wat die land se aasvoëls oor die afgelope jare help berskerm het.