
Die risiko dat lande nie genoeg voedsel kan produseer nie, raak al hoe groter, het mnr. Sam Rolland, direkteur van die Sub Saharan Economist Intelligence Corporate Network, op Graan SA se jaarkongres by Nampo gesê.
“Wanneer ’n bevolking honger is, is die mense kwaad en gevaarlik. Hulle stem met hul voete; gewoonlik vir die party wat die hardste skree, maar nie noodwendig saam met die private sektor sit om oplossings vir die krisis te vind nie.”
Die Suid-Afrikaanse landbousektor moet gelukgewens word dat hy die een sektor van die plaaslike ekonomie is wat die meeste sedert die pandemie gegroei het, maar Suid-Afrika sal steeds planne moet bedink om die gevaar van voedselonsekerheid in die komende jare die hoof te bied.
“Ons het gesien wat gebeur het in ’n land soos Peru, waar oeste laas jaar binne 11 maande met 19% ingekrimp het weens droogte en hoë kunsmispryse. Stygende voedselpryse en politieke ontstuimigheid het tot grootskaalse maatskaplike onrus gelei,” het Rolland gewaarsku.
Wat die Suid-Afrika se ekonomiese probleme betref, geskied die regering se finansiële ondersteuning van Eskom teen ’n hoë prys. “Ons sien ’n regering wat nie meer beweegruimte het om enigiets anders te finansier nie. Skuldvlakke gaan onvolhoubare vlakke bereik.”
Dít is nie noodwendig net ongunstig nie, want die regering se onvermoë om finansiering te verskaf beteken ook dat hy nie in die pad van die private sektor kan staan as laasgenoemde die voortou neem om ekonomiese vooruitgang aan te voer nie. As voorbeeld het Rolland genoem hoe vinnig regulasies rakende die drempel vir private kragopwekking verander het en tot ’n massiewe toename in kragaanlegte by myne en groot maatskappye gelei het. “Die mark het die aflosstokkie oorgevat en hy hardloop nou daarmee. Die regering kan nie byhou nie.”
Die landbousektor moet nou gevorderde tegnologiese vernuwing, soos kunsmatige intelligensie, aanpak. “Ons landbousektor is bekend daarvoor dat hy nuwe tegnologie omarm en vroeg reeds in boerdery toepas. Kom ons as sektor neem die voortou met die samewerking tussen innovasie en tegnologie wat uiteindelik tot voedselsekerheid sal lei.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.