Groot voedseluitdagings lê vir die wêreld voor, maar verhoogde produksie op dieselfde hoeveelheid grond is moontlik, sê Monsanto.
Mnr. Kobus Lindeque, bestuurder van Monsanto Afrika, sê hulle het pas begin om hul bedrywighede na Berkina Faso uit te brei, en hul fokus tans op hulp aan kleinboere in Afrika, sodat hul produksie verhoog kan word.
“Ons mikpunt is om Afrika se boere te help om teen 2020 die nodige sowat 35 miljoen ton voedsel te produseer. Die vasteland teken tans jaarliks ’n tekort van 7,1 miljoen ton aan,” vertel Lindeque.
Hy sê volgens voorspellings moet die wêreld teen 2030 sowat 76% meer mielies, 40% meer koring, 125% meer sojabone, 102% meer katoen en 28% meer rys produseer om in die totale bevolking se behoeftes te kan voorsien.
Droë geen
Weens die invloed van klimaatsverandering en die voorspelde droër weerstoestande werk die groep tans hard om ’n droë mielie-geen geregistreer te kry. Monsanto het vroeër vanjaar geld van die Bill and Melinda Gates-stigting ontvang om dié geen te ontwikkel.
“Die voorwaarde vir dié skenking was dat ons die saad gratis aan boere in Afrika moet voorsien, en dit is wat ons van plan is om te doen,” vertel Lindeque.
Hy sê dié mielieplant sal in droogtes stadiger groei, en sodra dit weer reën sal die plant op sy eie weer kan voortgaan. Die geen vorm deel van die groep se doelwit om boere wêreldwyd in staat te stel om hul opbrengste te verdubbel, met ’n derde van die water en kunsmis wat hulle gewoonlik gebruik.
Die groep sê daagliks word sowat 175 miljoen liter water op landbougewasse uitgespuit, en met die voorspelde droogtes in gedagte, wil hulle ook probeer om drupbesproeiing onder boere aan te moedig.
14 Desember 2011