
Die voedselgroep RCL Foods sê hoogs aansteeklike voëlgriep het ondanks streng biosekerheidmaatreëls by een van sy plase uitgebreek.
Die virus is by een van 18 skure op die groep se plaas Viva naby Muldersdrift in Gauteng bevestig. Die maatskappy het op 5 Augustus in 'n verklaring gesê Viva is 'n relatief klein teelplaas met sowat 67 000 hoenders in totaal.
Die plaas is onder kwarantyn geplaas. Al die hoenders word van kant gemaak om die verspreiding van die siekte te voorkom. RCL se naaste ander geriewe is sowat 30 km ver.
Nie vir vleisproduksie
Die hoenders op Viva word nie vir vleisproduksie gebruik nie en omdat die betrokke hoenders teen die einde van hul lewensiklus was, sal voorsiening aan die mark volgens RCL nie geraak word nie.
Mnr. Scott Pitman, besturende direkteur van RCL Foods se verbruikersafdeling, het gesê die uitbraak het voorgekom “ondanks obsessiewe en streng biosekerheidmaatreëls”.
RCL gee sy volle samewerking aan die Regering en ander owerhede vir die insameling van inligting oor die beste maniere om die siekte te bekamp.
Altesaam 11 uitbrekings
Volgens RCL het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye reeds 11 uitbrekings bevestig.
'n Dag voor RCL se verklaring het die SA Pluimveevereniging (SAPV) gesê daar was toe reeds vyf gevalle in vyf weke op kommersiële plase.
Die hoenders wat daardeur geraak is, is steeds 'n klein persentasie van die totale nasionale bevolking en die uitbrake het dus volgens die organisasie 'n baie beperkte impak op die voorsiening van pluimveeprodukte.
Suid-Afrika het volgens die SAPV verlede jaar sowat 1 miljard braaihoenders geproduseer en sy 24 miljoene lêhenne het sowat 8 miljard eiers gelê.