
Die Wes-Kaap skarrel om ’n volskaalse tragedie weens die uitbreek van die verwoestende voëlgriepvirus te voorkom.
Tot op hede is reeds meer as 200 000 hoenders weens die virus van kant gemaak en 11 gevalle van die virus is reeds bevestig op hoender- en volstruisplase in Kaapstad, Worcester, Caledon, Swellendam, Heidelberg en Oudtshoorn. In ’n verdere ses gevalle was die virus verantwoordelik vir wilde voëls wat in die provinsie gevrek het.
Die uitwerking wat die epidemie op die ekonomie kan hê, is enorm. “Op slegs een plaas is daar 96 werkgeleenthede in gedrang. Twee groot hoenderplase het aangedui dat hulle dit oorweeg om hul deure vir sake te sluit,” sê mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede.
LEES OOK: Inenting van pluimvee in SA teen H5N8?
Boerderye onder kwarantyn
Veeartse is besig met ’n ondersoek en opname om seker te maak dat die virus so gou moontlik hokgeslaan word. Alle hoender- en volstruisboerderye word aangemoedig om streng bio-sekuriteitsmaatreëls in plek te sit om te verhoed dat infeksie plaasvind, want daar is geen behandeling vir die virus nie en besmette voëls moet van kant gemaak word.
Alle volstruisplase in ’n radius van 10km van ’n bevestigde geval van voëlgriep word tans onder kwarantyn geplaas en bewegingkontrole van alle eiers en kuikens is ingestel. In die Heidelberg-omgewing is reeds 17 plase en in Oudtshoorn is 27 plase onder kwarantyn geplaas. Die slag van volstruise vir menslike verbruik word slegs toegelaat nadat die voëls negatief vir die virus getoets is.
Voël wat in aanraking was met bevestigde gevalle van besmetting, word almal van kant gemaak en die boerdery word onder kwarantyn geplaas. Nadat die hoenders van kant gemaak is, word die boerdery gesteriliseer voordat die boerdery uit kwarantyn gehaal word. Hoenderboerderye in ’n radius van 3km van ’n geïnfekteerde boerdery word streng gemonitor en getoets.
LEES OOK: Kevin Lovell bedank skielik
Ekonomiese impak
“Die verlaagde voorsiening van hoenderprodukte in die bedryf sal verdere druk op voedselpryse plaas wat huishoudings onder meer druk sal plaas. Om hierdie rede het ons noemenswaardige hulpbronne beskikbaar gemaak in ons poging om die siekte se verspreiding te keer, maar ons het die samewerking van die ganse sektor nodig as ons hierdie oorlog gaan wen.”
Volgens Winde is daar ’n beraamde 29 miljoen kommersiële hoenders in die Wes-Kaap en ’n verdere 185 000 hoenders in agterplaas-boerderye.
“Biosekuriteit is die belangrikste metode om verdere verspreiding te voorkom,” moedig Windie aan. “Hou pluimvee weg van wilde voëls, beperk toegang tot jou boerdery so ver moontlik en moet onder geen omstandighede iemand op jou boerdery toelaat wat die afgelope 48 uur in kontak met die virus was nie.
“Ons moedig mense aan om voldoende voorsorgmaatreëls in te stel wanneer hulle met besmette voëls in kontak is. Enige pluimveeproduk wat in supermarkte beskikbaar is, is veilig vir verbruik.”