
Die hoogs aansteeklike voëlgriep het die eerste keer onder kommersiële hoenders in Suid-Afrika uitgebreek.
Die land se grootste pluimveeprodusent, Astral, het gistermiddag (22 Junie) in 'n verklaring bekend gemaak die H5N8-stam van voëlgriep is op een van sy teelplase in die Villiers-omgewing gevind.
Die stam is nie gevaarlik vir mense nie, maar het wêreldwyd al daartoe gelei dat miljoene hoenders gevrek het of as deel van die voorkoming van die verspreiding van die siekte, van kant gemaak is.
Die Onderstepoort-instituut vir Veeartsenykunde het monsters van hoenders op die Villiers-plaas ontleed nadat daar hoë sterftesyfers was.
Onder kwarantyn
Die plaas is nou onder kwarantyn en al die hoenders op die spesifieke terrein sal van kant gemaak word, sê Astral. Dit sal volgens internasionaal aanvaarde standaarde gedoen word, met die samewerking van staatsveeartse en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) sê sowat 28 000 hoenders gaan van kant gemaak word.
Amptenare van Mpumalanga se veeartsenykundige owerheid is op die plaas om te help met die implementering van die kwarantyn, om die diere van kant te maak, en die ontsmetting van die plaas.
In Europese lande
Die SAPV sê die H5N8-stam is sedert November verlede jaar in verskeie Europese lande aangemeld, en vanjaar ook in Egipte, Uganda, die Demokratiese Republiek, en in Mei in Zimbabwe. Dit word gewoonlik deur wilde watervoëls versprei.
Mnr. Gary Arnold, besturende landboudirekteur van Astral, sê nadat dit in Zimbabwe gevind is, was Astral op 'n vlak van hoë waaksaamheid.
“Hoë sterftesyfers die afgelope twee dae onder hoenders op die terrein by Villiers het 'n dringende reaksie gesneller, in ooreenstemming met die maatskappy se gereedsheidsplan.
Om siekte te beheer
“Astral verseker alle belanghebbendes dat alles gedoen word om die voorkoms van die siekte te beheer. As dit tot die spesifieke terrein en/of plaas beperk kan word, sal Astral se gebeurlikheidsplanne verseker dat bedrywighede sonder enige invloed kan voortgaan.”
Die SAPV sê die spesifieke Astral-plaas is naby die Vaalrivier. “Die siekte is waarskynlik onder wilde watervoëls, spesifiek eende, in ander dele van Suid-Afrika teenwoordig.
Groot getalle
“Ons doen 'n beroep op die publiek om enige voorkomste van groot getalle vrektes onder groot wilde voëls of agterplaashoenders aan te meld.”
In dié stadium is die hoenders wat geraak word, 'n baie klein persentasie van die land se totale getal hoenderbevolking en het 'n baie beperkte invloed op die voorsiening van hoendervleis. Die situasie word baie noukeurig gemonitor, sê die SAPV.