
Nederland se owerhede het dié land in vier streke verdeel in ’n poging om die moontlike verspreiding van voëlgriep te keer. Dit is nadat die H5N8-virus op nóg drie plase in Nederland aangemeld is, aldus die webwerf, Boerderij.nl.
Switserland het intussen sy grense vir enige pluimveeprodukte uit Duitsland, Brittanje en Nederland gesluit. In België is hoender- en eierboere aangesê om nie hul pluimvee te vervoer nie ná die uitbreking van die siekte in die buurland.
In 'n berig op CNN se webwerf word kommer uitgespreek dat die voorkoms van voëlgriep in dié lande dalk deur trekvoëls veroorsaak is. Meer as 200 000 stuks pluimvee is reeds in Europa geslag om dié gevreesde siekte te probeer keer.
* In 2003 is meer as 30 miljoen stuks pluimvee in Nederland van kant gemaak ná 'n uitbreking van die H7N7-virus.
Bronne: