
Die pluimveebedryf moet hom staal vir nóg uitbrekings van hoogs aansteeklike voëlgriep later vanjaar. Dié waarskuwing kom van mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV). Hy het op ’n mediakonferensie van die SAPV gesê hoewel daar sedert Oktober verlede jaar nie wesenlike aanmeldings van die siekte was nie, is daar in die afgelope drie weke drie voorvalle aangemeld.
“Ons is bekommerd oor die voorkoms van voëlgriep onder wilde voëls. Hulle toets steeds positief al is dit nou die middel van die somer, wanneer daar heelwat minder positiewe gevalle is. Ons is nou op pad winter toe en ek dink die bedryf kan verdere uitbrekings verwag, selfs nog tot in die volgende somer.”
In 2017, toe voëlgriep die eerste keer in Suid-Afrika voorgekom het, het dit van plaas tot plaas versprei. Maar die bedryf het intussen streng biosekuriteitsmaatreëls ingestel en baie moeite met opleiding gedoen om ook kleinboere bewus te maak van die regte veiligheidsmaatreëls teen die siekte. Teen 2021 het voëlgriep hoofsaaklik vanaf wilde voëls na die plaaslike pluimveebevolking versprei. Die verminderde verspreidingsrisiko het beslis die koste geregverdig om strenger biosekerheid toe te pas, het Breitenbach gesê.
Verlede jaar se uitbreking het daartoe gelei dat sowat 14% van die teeltrop van kant gemaak is en dit het ’n nadelige impak op produksie gehad wat selfs nou nog gevoel word. Die slagsyfer het van 21,5 miljoen hoenders per week tot 19 miljoen per week afgeneem. Die bedryf se mikpunt is om die getal teen die einde van die jaar tot 22,5 miljoen op te stoot.
Breytenbach sê die denkrigting oor die voorkoming van hoogs aansteeklike voëlgriep in die Europese Unie (EU) begin ook verander. Waar voorheen nie veel voorbrand gemaak is om pluimvee in te ent daarteen nie, het Frankryk onlangs gevra dat dit deur die hele EU toegepas word.
Verlede jaar was ’n besonder verwoestende jaar vir pluimveeprodusente in Brittanje, Nederland, België, Italië en Duitsland met miljoene pluimvee wat weens voëlgriep van kant gemaak moes word. Verlede week het Frankryk volgens Bloomberg aangekondig dat hy in die komende weke sowat 1,3 miljoen stuks pluimvee van kant moet maak as voorsorgmaatreël om die jongste uitbreking te stuit. Die teenkanting teen inenting spruit voort uit die feit dat die virus so maklik muteer en dat inenting dikwels ondoeltreffend is.