
Die hoogsaansteeklike voëlgriepstam, H5N8, is nou glo ook by hoenders in die Wes-Kaap opgetel.
Dit volg nadat twee volstruisplase vroeër vandeesmaand by Heidelberg in die Wes-Kaap onder kwarantyn geplaas moes word nadat volstruise op die plaas positief vir die virus getoets het. Die uitbreking op die twee volstruisplase is die eerste van die H5N8-virus onder volstruise. Sowat 2 000 volstruise word geraak.
Landbouweekblad verstaan dat sowat 100 000 hoenders nou geslag sal moet word. Die naam van die plaas waar die virus ontdek is, is nog nie bekend nie.
Die H5N8-virus het reeds daartoe gelei dat honderde duisende hoenders in Mpumalanga en Gauteng van kant gemaak moes word en eiers vernietig moes word om verdere verspreiding van die virus te voorkom.
Hoewel die virus nie skadelik vir die mens is nie, bring dit massiewe verliese vir die pluimveebedryf mee. Braaihoender en eierproduksie se randwaarde maak steeds met 18% die grootste deel van die land se landboubedryf uit.
Dié kaart wys waar vanjaar se vorige uitbrekings van voëlgriep in Suid-Afrika voorgekom het.