
Hoogs aansteeklike voëlgriep (HPAI) het op nóg twee kommersiële plase uitgebreek, beide lêhenplase.
Die een is die derde voorval in Mpumalanga en die ander die eerste in Gauteng.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het die uitbrake Dinsdag (11 Julie) in 'n verklaring bekend gemaak en gesê beide plase is dadelik onder kwarantyn geplaas.
Dit behels onder meer dat geen hoenders of hoenderprodukte van en na die plase mag beweeg nie.
Danksy die nuwe stelsel waarvolgens verkopers en kopers van meer as vyf lewende hoenders by die Bestuursagentskap vir Pluimveesiektes (PDMA) moet registreer, kon vasgestel word dat daar die laaste 21 dae lewende hoenders vanaf die plase na depots gebring is waar dit van kant gemaak word.
Die depots se rekords word nagegaan om soveel moontlik van die hoenders op te spoor.
Skoue
Die departement raai intussen die publiek aan om liefs nie hoenders vir skoue, veilings en soortgelyke bedrywighede bymekaar te bring nie.
Waar sulke geleenthede gehou word, word organiseerders aangeraai om met staatsveaartsenykundige owerhede te skakel en die veilingshuise moet ook by die PDMA geregistreer wees.
Die departement het herhaal dat die spesifieke virus nie mense raak nie en het gesê die Departement van Gesondheid het, deur die Nationale Instituut vir Aanmeldbare Siektes, werkers op die betrokke plase getoets. Geen menslike voorvalle is opgespoor nie.
Verhoogde waarneming van wilde voëls, kommersiële hoenders en agterplaashoenders duur voort.
Hoendereienaars, boere en die publiek is weer gevra om gevalle van groot vrektes by hoenders en ander voëls by die naaste staatsveaarts aan te meld.
Handel
Die departement sê intussen die eerste twee plase waar die hoogs aansteeklike H5N8-virus uitgebreek het, is nou heeltemal ontvolk en dat stappe gedoen word om seker te maak die siekte versprei nie en die omgewing word nie besmet nie.
Uitvoer van hoenders en hoenderprodukte vanaf geregistreerde HPAI-vrye kompartemente gaan intussen voort na lande wat die waarborge van sulke kompartemente aanvaar.
“Geregistreerde kompartemente gee goeie samewerking om die toetsreëlmaat na maandelikse toetsing te verhoog,” lui die verklaring.
Die uitvoer van rou vleis, eiers en lewende voëls is wel na sommige handelsvennote ontwrig.
Produkte wat verwerk is om te verseker dat die virus vernietig word, duur voort, behalwe waar handelsvennote besware gelug het.
* Het jy ’n nuuswenk, kommentaar, ’n foto of video wat jy aan ons wil stuur? Gebruik Whatsapp om met ons te gesels by 063 720 3632.