
’n Uitbreking van die H5N8-voëlgriep op ’n eendplaas in die foie gras-produksiegebied in die suidweste van Frankryk beteken die land kon homself nie, soos beoog, op 3 Desember as vry van voëlgriep verklaar nie.
Dié hoogs aansteeklike virus is die eerste keer op 27 November in Frankryk opgespoor, in wilde-eende in Pas-de-Calais. Dié gebied se foie gras-bedryf is swaar getref deur vorige uitbrekings van voëlgriep.
Die virus het 2 000 eende op die plaas by die dorp Almayrac in die Tarn-streek uitgewis. Die oorblywende 3 000 voëls op die plaas is ook van kant gemaak. Verder is ’n 3 km-beskermingsone en 10 km-waaksone ingestel.
Die Wêreld-dieregesondheidsorganisasie maak voorsiening daarvoor dat uitvoer op ’n streeksgrondslag geskied, wat beteken Frankryk sal pluimvee uit ander streke mag uitvoer.
Bron:
The Poultry Site