
Die onlangse uitbreking van voëlgriep in Standerton en Villiers kan die pluimveemark 'n geweldige knou toedien, tensy produsente daadwerklik optree. Dié waarskuwing kom van me. Liana Steenkamp, besigheidsontwikkelingsbestuurder by Laeveld Agrochem.
Volgens Steenkamp is dit 'n sterk moontlikheid dat voëlgriep verder sal versprei, veral weens die teenwoordigheid van wilde voëls in die omgewing waar die uitbreking plaasgevind het, sowel as die verkope van lewende voëls.
Die Regering se moratorium op die verkope van lewende pluimvee sal help, maar die moontlikheid bestaan dat verkope steeds op sommige plekke sal voortduur.
Groot skade
In 'n verklaring van Laeveld Agrochem sê die maatskappy dat onlangse uitbrekings van voëlgriep groot finansiële skade in Amerika aangerig het. Die prys van onder meer eiers het ook deur die dak geskiet as gevolg van die siekte.
Die H5N8-stam is verantwoordelik vir die huidige uitbreking. Die stam het sedert November in verskeie Europese lande voorgekom en nader aan die huis ook in Egipte, Uganda, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Zimbabwe.
Dr. Charlotte Nkuna van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPA) vra dat boere waar moontlik voorkomend moet optree, omdat die teenwoordigheid van trekvoëls die risiko van die verspreiding van die siekte verhoog.
Me. Bomikazi Molapo, woordvoerder van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye, waarsku ook dat die siekte baie vinnig versprei en talle voëlspesies kan besmet.
Lees dr. Faffa Malan se raad oor die H5N8-stam van voëlgriep.