
Die lande is Israel, Nederland, Duitsland, Pole, Hongarye, Frankryk, Denemarke en Brittanje, het me. Makenosi Maroo, woordvoerder van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, op 23 Januarie gesê.
Suid-Afrika het verlede jaar groot hoeveelhede hoenderstukke aan die been uit die Europese Unie (EU) ingevoer. Dié lande op wie se produkte daar nou 'n verbod is, het volgens syfers op die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging se webblad in die eerste ses maande van 2016 soos volg vir invoer van pluimveeprodukte gesorg: Nederland 16,7% , Brittanje 9,1%, Hongarye 2,5%, Denemarke 2%.
In November alleen het 29% van ingevoerde pluimveeprodukte uit Nederland gekom, 10,5% uit Brittanje, 4,9% uit Pole en 2,4% uit Denemarke.
Ander lande van waar Suid-Afrika verlede jaar pluimveeprodukte ingevoer het, en teen wie 'n verbod nie op 23 Januarie gegeld het nie, sluit in Brasilië, Spanje, Amerika, België, Argentinië, Ierland en Kanada.
Wyd aangemeld
Uitbrekings van verskillende stamme van die voëlgriepvirus is wydverspreid in die wêreld aangemeld. Die Britse publikasie Farmers Weekly het op 16 Januarie berig daar was aanmeldings in 18 Europese lande, wat tot die uitdunning van 1,5 miljoen voëls gelei het.
In Amerika, een van die wêreld se groot uitvoerders, is H5N2 volgens die Amerikaanse landboudepartement in 'n wilde eend in Montana aangemeld, maar teen 9 Januarie is nog geen siektes of vrektes in huishoudelike pluimvee aangemeld nie.