Lande in die res van die wêreld sorg eers vir hul eie burgers voor hulle kos uitvoer. Dit is die rigting waarin Suid-Afrika moet beweeg om voedselsekerheid te bewerkstellig, meen dr. Anwah Nagia, uitvoerende hoof van die beleggingsmaatskappy Element Investment Managers en Altius Investment Holdings.
Hy was een van die sprekers op ’n byeenkoms oor voedselsekerheid in Kaapstad. Dit was deel van ’n gespreksessie wat deur die ministerie vir ekonomiese ontwikkeling en die Kaapstadse dagblad Cape Times gereël is.
Nagia, me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, en mnr. Artwell Nazo, voorsitter van die Food and Allied Workers Union (Fawu), was sprekers op die byeenkoms.
Die vraag is gestel hoe daar genoeg bekostigbare kos geproduseer kan word sodat niemand in die land kan honger ly nie. Volgens Nagia is grootskaalse kommersiële boerderye nodig om aan toekomstige kosbehoeftes te voorsien. Hy het veral klem gelê op China en Indië wat die leiers in die ekonomie rakende ontwikkeling is.
“China het ’n groeiende middelklas van 300 miljoen mense en bou 500 stede so groot soos Johannesburg oor die volgende 50 jaar. Dié land het ’n groot vraag na kos en hy beskerm sy kosketting en sy uitvoer.”
Meer groente en vrugte
In Suid-Afrika sal meer vrugte en groente geproduseer moet word om te sorg dat daar gesonder mense is en sodoende die staat se maatskaplike las ligter te maak. Nagia sê dat boere nie in hul grond sal belê as hulle nie eiendomsekerheid het nie.
Verder moet die beleid oor die herverdeling van grond voedselsekerheid in ag neem en nie net politieke motiewe nie. Nazo van Fawu meen dit sal nie sin maak vir die land om ’n status van voedselsekerheid te hê as gesinne nie kos teen bekostigbare pryse kan kry nie.
Die Regering moet volgens hom ingryp in die vraag na en die aanbod van stapelvoedsel om te verseker dat huishoudings kos kan bekostig. Fawu vra dat die staat sy eie aanskaffing- en verspreidingsmaatskappy moet begin sodat kos arm gemeenskappe en huishoudings teen goedkoop pryse kan bereik. Hy meen dat die staat sal meebring dat kospryse verlaag word en hy kan ook ’n goeie mededinger vir private maatskappye wees.
Kultuur van entrepreneurskap
Joemat-Pettersson meen dat vandag se jong mense nie hul hande wil vuilmaak nie en dat Suid-Afrikaners nie ’n kultuur van entrepreneurskap het nie. Eie geleenthede word nie geskep nie en boonop produseer die land nie dit wat hy eet nie.
Altesame 63,5% van huishoudings in die land is van salarisse afhanklik en 47% kry toelaes van die staat. Selfs skole wat toelaes vir voeding kry, gebruik dit vir die koop van kos. “Hulle besef nie hulle kan dit belê in die opvang van reënwater, die plant van groentetuine en so hul eie voedselsekerheid bewerkstellig nie.”
Boonop het toelaes die maatstaf-inkomste geword. Altesame 67% van die inwoners van Limpopo kry toelaes, 55% in die Oos-Kaap, 51% in die Noord-Kaap en 50% in die Vrystaat. ’n Onlangse studie het bevind dat studente en diegene wat toelaes kry, die grootste deel van die geld op lugtyd vir hul selfone bestee.
In Suid-Afrika het 20% van huishoudings nie voldoende toegang tot kos nie en slegs minder as ’n kwart van die bevolking is betrokke by die plant van enige vorm van eetbare plante. Maar meer as dubbel dié getal mense is betrokke by die plant van mooi blomtuine, het sy gesê.
“Ons sal tuine by die huise moet aanmoedig as ons voedselsekerheid in die landelike en stedelike gebiede wil behou.” Joemat-Pettersson het dit ook duidelik gestel dat om te boer ’n besigheid is en dat die Regering mense wil leer om plase as ’n besigheid te bestuur en hoe om toegang tot markte te kry.
Om dít te vermag, word met kommersiële boere saamgewerk om kleinboere onder hul vlerk te neem.
20 Desember 2010